Danny keer terug na Bloemfontein

0
553
Danny, wat nou al vir 22 jaar in die musiekbedryf is, tree vir die eerste keer in drie jaar weer in Bloemfontein op.

Lesley Morgan, wat aan die mense van Bloemfontein beter bekend is as Danny, is ná vyf maande terug in die stad nadat hy op ‘n skip opgetree het wat van Italië af tot in die Kaap gevaar het. Morgan het aan Bloemfontein Courant bevestig dat hy nou al vir 22 jaar in die musiekbedryf is en al deel van ‘n paar bands in Bloemfontein was.

Hy vertel verder dat hy onlangs ‘n nuwe band in Bloemfontein begin het, maar nie vir baie lank in Bloemfontein sal wees nie.
“Ek gaan in Oktober weer op ‘n Mediterreense skip werk vir sowat ses maande.”
Hy sê die plan was eintlik om te rus, maar dit lyk asof die bedryf ander planne vir hom het en hy reeds ‘n paar vertonings in Johannesburg in die pyplyn het.

Sy toekomsplanne sluit ‘n musiekskool vir die musikante van Bloemfontein in, waar hulle gratis opnames kan maak omdat die ander plekke so duur is en nie alle kunstenaars dit kan bekostig nie.

Morgan sê dat hy weer vir die eerste keer in drie jaar hierdie naweek in Bloemfontein gaan optree.
Sy raad aan jong kunstenaars is om voort te gaan en aan te hou probeer, selfs wanneer dinge moeilik raak.

As jy vir Danny in aksie wil sien, kan jy hierdie naweek die Heidedal Culture Market besoek en Danny en Gift beleef.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za