Daniël Wesley betree Afrikaanse musiek

0
1219
Daniël Wesley

‘n Bekroonde Bloemfonteinse sanger, Daniël Wesley, se heel eerste Afrikaanse enkel-snit beloof om op die trefferparade te boer.

Die country-sanger het onlangs sy toetrede tot die Afrikaanse musiekmark gemaak met sy nuwe enkelsnit “Huis is waar die hart is”.

Alhoewel die Vrystaatse kunstenaar al klaar vir homself naam gemaak het in Nashville, Amerika, bewys hierdie enkelsnit dat hy ’n fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal en idioom het.

“Die boodskap wat die liedjie moet oordra is dat verlange nie perke of grense ken nie en dat die pad altyd huis toe lei, maak nie saak hoeveel duisende kilometers jy van jou geliefdes af is nie,” sê Wesley.

Die gevoel word goed verwoord in die volgende lirieke: “My hart is ’n kompas wat my terug sal bring na jou.”

Hierdie is sy derde enkelsnit en hy het in 2018 die kontemporêre Engelse country-liedjie Rainmaker vrygestel waarvoor hy as beste manlike sanger by The South African Country Music Awards bekroon is.

Die nuwe enkelsnit wyk nie van sy wenresep af nie en het steeds ’n moderne country klank en die lirieke dra ’n sterk boodskap van liefde en hoop oor. “Huis is waar die hart is” is beskikbaar op alle stroomplatforms.

Vir meer, volg Wesley op Instagram by danielwesleyafrica, en op Facebook by Daniël Wesley Africa.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za