Dan Pienaar: Inwoners praat oor ondernemings

0
Dan Pienaar: Inwoners praat oor ondernemings

Dan Pienaar-inwoners asook inkopiegangers het met Bloemfontein Courant gepraat oor hoe dit hulle sal affekteer as besighede in die omgewing hul persele moet ontruim.

Inwoner dr. Huibrie Verster vertel dat sy beslis gebruik maak van hierdie gerieflike, nabygeleë ondernemings. Vir haar is die veiligheid van gewone inwoners wat langs hierdie besigheide woon egter ook belangrik, veral as sakepersele na ure gesluit is. Sy voel in gevalle wanneer ‘n onderwyser bv. ekstra wiskundeklasse aan leerders van sy skool by sy huis gee, dit nie gekritiseer kan word nie.

‘n Anonieme inkopieganger dink dié besighede bied ‘n ongelooflike diens en is gerieflik om by te stop. “Hulle is die ruggraat van ons ekonomie. Hulle bied werk, vaardighede en verpersoonlikte dienste aan ons gemeenskap.” Nog ‘n inkopieganger vind dit ‘n baie hartseer situasie. Sy dink dié besighede benadeel niemand nie en die hele bohaai is onnodig. Dit kom nadat van die besighede wat sake doen in die woongebied onlangs deur ‘n groep gegriefde inwoners gedagvaar is omdat hulle sake doen op residensiële erwe.
Die eienaar van een van die besighede, wat ook anoniem wil bly, vertel dat van die inwoners gerus voel omdat die veiligheidstelsel van haar besigheid deels ook veiligheid beteken vir ander in die omgewing. Sy voel daar moet aan die impak wat die sluiting van besighede op die ekonomie het, gedink word. Baie van hierdie besighede sal hul werknemers, waarvan baie alleenbroodwinners is, moet afdank, wat beteken dat meer mense sonder werk sal sit.

Nog ‘n eienaar van ‘n boetiek in die gebied, Francette Slabbert, vertel aan Bloemfontein Courant dat hulle ook opdrag gekry het om hul persele te ontruim teen 1 November. Slabbert verduidelik dat haar intensie nooit was om onwettig op te tree nie. Sy was, inteendeel, telkemale by die munisipaliteit. Sy moes wag vir die finalisering van die struktuurplan voordat sy haar aansoek vir hersonering kon indien. Intussen kon sy nie ophou om sake te doen nie, want sy moet ‘n lewe maak. Sy vrees dat as sy moet trek, dit haar besigheid sal vernietig. “Hierdie hele situasie skep vrees onder die mense in die omgewing.” Sy vra dat die inwoners die geaffekteerde besighede tyd sal gun.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, het in reaksie gesê die metro het ‘n sub-direktoraat vir stads- en streeksbeplanning wat alle kwessies rondom stadsbeplanning hanteer.

“Struktuurplanne is reeds opgestel vir verskeie gebiede in die stad, wat betref die Wet op Ruimtebeplanning en Grondgebruikbestuur, asook ander toepaslike wetgewing. Dié gebiede sluit ook Louw Wepenerstraat in.

“Die voorgestelde struktuurplanne moet nog deur die stadsraad oorweeg word. Kennisgewings is reeds aan alle onwettige ondernemings uitgereik, waarin hulle versoek word om aan die relevante sonerings te voldoen.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za

No posts to display