Dan Pienaar-besighede: ‘Waarheen moet ons gaan’

0
681

Besigheidseienaars in Dan Pienaar, Bloemfontein, is raadop nadat sommige van hulle verlede week beboet is, in die meste gevalle met R11000 omdat die persele net vir residensiële gebruik gemagtig is en hulle net 30 dae het om dié boetes te betaal. Van die besighede  betaal reeds  besigheidstariewe vir elektrisiteit en munisipale dienste. Een van die eienaars van ‘n boetiek in die gebied, Francette Slabbert, vertel aan Bloemfontein Courant dat hulle ook opdrag gekry het dat hulle hul persele moet ontruim teen 1 November.

Dit kom nadat van die besighede wat sake doen in die woongebied onlangs deur ‘n groep gegriefde inwoners gedagvaar is, omdat hulle besigheid op die erwe doen.

Slabbert verduidelik dat haar intensie nooit was om onwettig op te tree. Sy was, inteendeel, telkemale by die munisipaliteit.  Sy moes wag vir die finalisering van die struktuurplan voordat sy haar aansoek vir hersonering  kon indien. Intussen kon sy nie ophou om sake te doen nie, want sy moet ‘n lewe maak. Sy vrees dat as sy moet trek, dit haar besigheid sal vernietig.  “Hierdie hele situasie skep vrees onder die mense in die omgewing. My bure het al na my toe gekom en gevra wat gaan hulle doen wanneer ek hier weg is. Ons kyk na  mekaar. ”

Slabbert se vraag is nou waarheen hulle moet gaan. Sy sê dat sy nie weer in ‘n sentrum sal kan sake doen nie omdat die hoër huur hoër pryse van goedere beteken, wat dit onbekostigbaar maak vir die verbruiker. Dit sal ook nie gerieflik wees vir van haar ouer klante wat van rolstoele en looprame gebruik maak nie.

Volgens haar is die klaers bekommerd oor ‘n geraas, die daling in waarde van hul eiendomme asook die veiligheid in die omgewing. “Dit het nooit oor ons as sake-eienaars gegaan nie; dit het vir ons gegaan oor die waarde wat ons kan toevoeg tot ons klante.  Toeganklik ,veilig,

tydbesparende aankope en dienste in ‘n rustige omgewing vir die mense van Bloemfontein

Sy versoek dat almal eerder saamwerk om die stelsel te verbeter en die proses te verhaas  om die nodige veranderings en aanpassings aan te bring om besighede se wetlikheid te bewerkstellg. Sy vra dat die inwoners  die geaffekteerde besighede tyd sal gun.

‘n Ander besigheidseienaar het op voorwaarde van anonimiteit met Courant gepraat. Sy sê baie inwoners is bekommerd indien sy sou verhuis, want hulle voel dat haar besigheid se  veiligheidstelsel deels ook veiligheid beteken vir  ander in die omgewing. Sy voel dat daar aan die impak wat die sluiting van besighede op die ekonomie het, gedink moet word. Baie van hierdie besighede sal hul werknemers, waarvan baie alleenbroodwinners is, moet afdank, wat beteken dat meer mense sonder werk sal sit. Van die besigheidseienaars het hul pensioengeld gebruik om besighede te vestig– dit beteken dat hulle alles sal verloor.

Courant het ook die munisipaliteit om kommentaar gevra, maar geen reaksie gekry nie.

SAZLY HARTZENBERG

sazly@centralmediagroup.co.za