Die President Kruger Kinderhuis bied vir die heel eerste keer ‘n damestee Saterdag (23/7) by Monte Bello Estate buite Bloemfontein aan.
Corlea Botha sal as die gaskunstenaar optree. Die kinderhuis is in 1960 gestig en is verantwoordelik vir 65 kinders tussen die ouderdom van 4 en 19.
Die doel is om te verseker dat hierdie kinders in ‘n liefdevolle omgewing met goeie opvoeding en waardes groot word.
Alhoewel die kinderhuis geseënd is met donasies van kerke, besighede en individue, dek dit nooit al die uitgawes nie en is daar altyd ‘n behoefte wat aandag verg. Alle inkomstes van hierdie geleentheid sal onder andere vir kos en toiletware, skoolbenodighede, klere, water en elektrisiteit, en die opgradering van die waskamer gebruik word.
Volgens die organiseerder van die byeenkoms, Franli Hedder, beoog hulle om tussen 120 en 150 dames te verwelkom.
Diegene wat graag ‘n skenking wil maak of ‘n tafel wil bespreek, kan Franli by 072 904 0909 kontak. Enige ander donasies sal ook waardeer word.
Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za