Die wyse waarop ‘n uitmuntende 17-jarige fietsryer van die Rosestad opgang in dié uitmergelende sportsoort maak, gaan sorg dat die naam, Damean Oosthuizen, eersdaags op alle sportliefhebbers se lippe gaan wees.
Oosthuizen, tans op die skoolbanke (graad 11)van die Hoërskool Fichardtpark, wat vir die Aerocare Bloemfontein Courant-fietsryspan jaag, is die enigste Vrystater wat ingesluit is om Suid-Afrika van 9 tot 16 Oktober op die wêreld-padfietsrykampioenskap in Doha, Katar, te verteenwoordig. Hy is boonop een van slegs drie Suid-Afrikaanse mans wat die onderskeiding behaal het om in die junior afdeling diens vir die land in Doha te doen.
Dié kampioenskap is geensins kinderspeletjies nie. Meer as ‘n duisend van die wêreld se padfietsryers se speke gaan in Doha sing en dié jaers kom uit 75 verskillende lande van regoor die wêreld om sake uit te spook en in onderskeie afdelings as wêreldkampioen gekroon te word.
Oosthuizen se twee nasionale spanmaats in die afdeling vir junior mans is Devon Short en Jason Oosthuizen. Die Bloemfonteiner sal in aksie wees in die 135km-padwedren en gaan ook koppe stamp in die 28km-tydtoets.
Suid-Afrika se voorste padfietsryer onder die senior vroue, Ashleigh Moolman-Pasio, het ook nou bande met Bloemfontein. Sy het haar matriek aan Eunice voltooi en haar kanse blyk goed te wees om onder die voorste tien vroue in Doha te eindig.
Gaan maak jy ‘n draai by fietsry-statistiekboeke en blaai deur slegs vanjaar se vertonings op nasionale vlak, is dit duidelik hoekom Oosthuizen se naam onder die uitsoekgroep na Doha verskyn.
Hy was onder meer derde op die Suid-Afrikaanse padwedrenkampioenskap vir juniors. Hy was ook in baanfietsry op sy stukke en onthou, Bloemfontein beskik nie eens oor ‘n fietsrybaan om baanfietsryers behoorlik te slyp vir groot byeenkomste nie. Oosthuizen is as nasionale junior kampioen in die Omnium-baanafdeling gekroon.
Hy is in spanverband ook gekroon as die Suid-Afrikaanse junior naelrykampioen.
Oosthuizen het gedurende Junie en Julie ‘n junior internasionale toer meegemaak waar hy waardevolle ondervinding opgedoen het vir die genoemde wêreldkampioenskap in Doha. Hy het op die toer in Junie en Julie koppe gestamp teen van die beste jaers in Europa en hom gereeld onder die voorste linies bevind. – RUFUS BOTHA
info@bloemfonteincourant.co.za