Dalk eerder ‘n belastingvrye belegging?

0
697

Verlede week se geselsie het gehandel oor jou tyd wat uitloop om nog betyds ‘n paar rand in jou uittree-annuïteit (UA) te kry en so effense addisionele belastingverligting te bewerkstellig vir die 2019/2020-belastingjaar.

Dit blyk egter dat daar heelwat mense is wat nie kan besluit of dit vir hulle beter sou wees om eerder geld op ‘n belastingvrye belegging (TFSA) te belê nie. Teen die tyd dat die rubriek verskyn, is jou tyd eintlik reeds verstreke om iets in die huidige belastingjaar te kan doen, maar niks verhoed jou om jou belastingsituasie vir die 2020/2021-belastingjaar nou reeds te begin aanspreek nie.

Sowel ‘n UA as ‘n TFSA bied aan jou unieke belastingvoordele en die ideaal is eintlik om albei te benut en nie tussen die twee te kies nie. Die enigste ooreenkoms tussen die twee produkte is dat albei aan jou belastingvrye opbrengste bied. Verder verskil hulle hemelsbreed.

Weens beperkte ruimte noem ek van die verskille in kort. Eerstens, is ‘n UA se premies binne sekere perke aftrekbaar teen jou belasbare inkomste terwyl ‘n TFSA se bydraes nie aftrekbaar is nie. Verder is ‘n UA se geld eers toeganklik vanaf ouderdom 55, en dan kan jy slegs tot ‘n maksimum van een derde bekom. Die oorblywende twee derdes moet gebruik word om aan jou ‘n pensioenpaaiement te voorsien.

Daar mag egter belastingimplikasies wees met die neem van die een derde, asook met die maandelikse pensioenpaaiement.
Op ‘n TFSA is jou geld enige tyd gedeeltelik of ten volle beskikbaar. Onttrekkings is belastingvry en toekomstige inkomste wat uit die belegging getrek word, is ook belastingvry. Probeer egter om nie onttrekkings op die soort van beleggings te maak nie. Jou werklike voordeel kom eers as jy op die lang termyn daarin kan belê.

Op ‘n UA kan jy meer belê as wat jy toegelaat word om te kan benut vir ‘n belastingaftrekking. Jy sal dit wat jy meer betaal net nie kan aftrek teen jou belasbare inkomste nie, maar dit sal wel oorgedra word na volgende jare toe, en kan dan benut word. Op ‘n TSFA kan jy net R33 000 per jaar bydra. Indien jy enigiets meer as dit bydra, sal daar ‘n boete van 40% geld op dit waarmee jy die R33 000 oorskry.

UA’s is onderhewig aan Regulasie 28 van die Pensioenfondswet, wat limiete tot sekere bateklasse en buitelandse blootstelling daarstel. Hier teenoor is daar min beperkinge ten opsigte van wanneer jy in ‘n TFSA belê.

Dan is daar nog ook paar verskille hoe die twee produkte in jou boedel hanteer sal word. Ek het ‘n interessante artikel oor UA’s versus TFSA’s, geskryf deur Sanlam Investments. Stuur gerus vir my ‘n e-pos na horace@nassaux.com, en ek stuur dit vir jou aan.

Horace Terry

horace@nassaux.com