Dal FM dalk gou op lug

0
287
Lizel Smith en Keke Mulutsi (ICASA-skakelbeampte) by die gemeenskapvergadering verlede Saterdag FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

‘n Nuwe radiostasie saai dalk een van die dae uit Heidedal, Bloemfontein, uit. Liezel Smith, oorspronklik van Pretoria, bly vir sowat ‘n jaar in Heidedal en glo dat die gemeenskap ‘n eie radiostasie nodig het.

Smith het aan Bloemfontein Courant gesê dat sy voorheen by ‘n radiostasie gewerk het en dat dit aan haar die kennis en ervaring bied om dié idee verder te neem. Sy sê ook dat waar sy vandaan kom, byna elke gemeenskap sy eie radiostasie het. Sy voel Heidedal se mense verdien ook een.

Volgens haar gebeur daar so baie dinge in Heidedal wat nie die media haal nie of waarvan net sekere gebeure in die gebied gedek word. “Die mense het nie ‘n platform om hul probleme en frustrasies uit te spreek nie.” Sy vertel dat sy reeds met ‘n paar gemeenskapslede gepraat het wat heel positief oor die idee is.

Smith sê daar is baie mense wat dit nie kan bekostig om heeldag op Facebook te wees om te sien wat in hul omgewing aangaan nie. Op die vraag of sy al ‘n naam vir die stasie het, het sy gesê omdat van die name wat sy in gedagte gehad het reeds deur ander gebruik word, sy besluit het op ‘Di Dal FM – Die Kasie wat praat’.

Smith het reeds die naam by die Independent Communications Authority of South Africa (Icasa) geregistreer en verlede Saterdag was een van ICASA se lede by ‘n gemeenskapsvergadering om die reëls en regulasies van so ‘n proses te verduidelik.

Bloemfontein Courant het ook met Icasa se skakelbeampte, Keke Mulutsi, gepraat en hy het vertel dat dit eintlik ‘n lang proses is om ‘n radiostasie te begin. “Die lisensie wat uitgereik word aan die gemeenskap wat aansoek doen vir die radiostasie, sal altyd aan hulle behoort,” sê Mulutsi. “Ek neem hulle deur die aansoekvorms, wat amper ‘n jaar sal neem om in te vul. Daar is so baie dinge is wat mense in ag moet neem as dit by ‘n radiostasie kom,” sê hy.

Volgens Mulustsi is dit belangrik vir mense wat aansoek doen om die gemeenskap se ondersteuning te hê, asook om te weet van waar af daar uitgesaai gaan word. Hy sê daar is daagliks mense by ICASA om aansoek te doen vir radiostasies, maar dit is nie iets wat oornag gebeur nie. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za