Dagga help kankerlyers – moet dit gewettig word?

0
14291

OWEN KOCK

As daar van dagga in Suid-Afrika gepraat word, word dit vereenselwig met misbruik en misdaad. As daar van die wettiging daarvan gepraat word, raak sommige landsburgers behoorlik die hoenders in.

Die gebruik van dagga in Suid-Afrika is onwettig en kan die gebruiker of die voornemende gebruiker in die tronk laat beland.
Daar word nou egter beweer dat die olie van die daggaplant verligting bring aan kankerlyers. Daar is selfs mense wat sê die verbode olie het hul heeltemal genees. Nou word gewag om te hoor of die Suid-Afrikaanse regering wel die gebruik van dagga vir medisinale doeleindes gaan wettig.

Dagga is een van die verbode middels wat gewoonlik lei tot verslawing. Of dalk nie. Dit volgens een van Amerika se voorste navorsers oor medisinale dagga, dr. David Bierman, wat in Santa Barbara in Kalifornië woon.

Hy het sowat veertig jaar gelede vir die eerste keer met, wat hy die wonderdwelm noem, kennis gemaak. Volgens hom is daar sekere gevalle wat aandui dat dagga help vir epilepsie, veelvuldige sklerose, gloukoom, skeelhoofpyn en asma.

"Ek het gedink dit is te goed om waar te wees dat een middel vir soveel kwale aangewend kon word. Wel, dit kán.

"Ten spyte van dagga se reputasie is daar wetenskaplike bewyse dat dit effektief teen sekere soorte kanker is," het Bierman gesê.
Hy meen jare gelede was dit een van die middels wat die meeste voorgeskryf is in Amerika en slegs diegene wat dit in oormaat gebruik het, het verslaaf geraak daaraan.

Maar in Suid-Afrika is dit ‘n heel ander storie. Dit is ‘n dwelmmiddel en daar is bewys dat dit lewens verwoes, die lewens van jonk en oud in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Kim Collins van KwaZulu-Natal het onlangs onthul dat die gebruik van dagga-olie haar van kanker van die lewer genees het. Sy is twee jaar gelede gediagnoseer en tussen twee weke en ‘n paar maande gegee om te leef. Sy is op aggressiewe chemoterapie geplaas om die gewas aan haar lewer te verklein en drie maande na die chemo het die gewas slegs 5% gekrimp.
Collins se onkoloog het nog ses maande se chemo voorgestel, maar sy wou nie. Dis toe dat haar seun voorstel dat sy dagga as ‘n laaste uitweg probeer. Sy het ingestem en na ‘n gesukkel is daar voorgestel dat sy gekonsentreerde dagga-olie, so groot soos ‘n ryskorrel se hoeveelheid, gebruik.

"Jy neem een ryskorrel (dagga-olie) en ‘n teelepel kokosneutolie en meng dit en smeer dit aan jou tandvleis," het Collins verduidelik.

Die olie het omtrent onmiddellik ‘n positiewe uitwerking gehad. "Dit het my angstigheid laat verdwyn, ek was baie meer rustig en dit het baie van die pyn weggeneem," vertel Collins verder.

Drie maande nadat Collins die olie begin gebruik het, het sy vir ‘n skandering gegaan. Die gewas kon toe verwyder word. Vandag is sy kankervry.

Die dagga-olie kom in ‘n spuit en sal die gebruiker tussen R500 en R3500 uit die saak jaag.
Intussen is dit steeds onwettig om enigsins in die besit van dagga te wees.

owen@centralmediagroup.co.za