Daar’s hoop, sê VF Plus

0
679
Wouter Wessels, parlementslid vir die Vryheidsfront Plus

Die Vryheidsfront Plus glo dat die party ‘n geskiedenis het van effektiewe bystand aan inwoners ten opsigte van diensleweringprobleme, dat hy ‘n effektiewe waghondfunksie verrig, en dat hy verantwoordbaarheid en deursigtigheid afdwing.

“Ons het ‘n mosie van wantroue in die omstrede voormalige uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli, ingedien, wat haar uit haar pos verwyder het. Die VF Plus-beleid bied ware oplossings vir die krisis wat die plaaslike regering in die gesig staar. Ons is ‘n toekomsgedrewe party wat goeie waardes en gelyke geleenthede vir almal bevorder,” sê Wouter Wessels, VF Plus-parlementslid.

Volgens die party sal hy altyd verantwoordbaarheid en deursigtigheid deur genoegsame oorsig verseker en verkies hy die kollektiewe uitvoerende stelsel bo die huidige uitvoerendeburgemeesterstelsel. “Dit sal beter verantwoordbaarheid en deursigtigheid verseker. Dit sal ook geld bespaar.”

Die VF Plus het aan Bloemfontein Courant gesê hy sal volhou om die gebrek aan onderhoud van infrastruktuur aan te spreek en beter wateren afvalbestuur verseker. “Infrastruktuur-toelae moet bestee word op dit waarvoor dit bedoel is, en moet ten volle bestee word. Ons sal onnodige uitgawes bekamp en poog om buitensporige eiendombeslasting en dienstegelde te verhoed. Die beskerming van die omgewing en die veiligheid van die gemeenskap sal ook voorkeur geniet. Om ‘n omgewing te skep wat bydra tot ekonomiese groei, is betroubare dienslewering nodig. Dit moet maklik wees om ‘n sakeonderneming te kan begin en te bedryf. Tans maak die metro dit moeilik. Hersonering en handelspermitaansoeke word vertraag. “Ons sal verseker dat amptenare aangestel word op meriete.”

Die party glo ook dat die gemeenskap se belange voorop gestel moet word. “Ons sal diensleweringprobleme opneem, ons sal daadwerklik optree en deelname in besluitneming wat betrekking op die gemeenskap het, verseker. ‘n Minimum persentasie van belastinginkomste uit ‘n wyk behoort aan daardie wyk bestee te word.”

Op die vraag oor hoe die party korrupsie sal stop en verseker dat geld wat vir projekte geallokeer word reg bestee word, sê die VF Plus dat effektiewe deursigtigheid geïmplementeer sal word en dat daar gevolge sal wees vir amptenare, uitvoerende lede en raadslede wat die wet en regulasies oortree en wat onreëlmatighede en onwettige gedrag toelaat. “Kontrakteurs behoort gemonitor te word in terme van waarde vir geld en vordering en moet verantwoordbaar gehou word indien hulle nie projekte voltooi nie of werk van substandaard lewer.”

Vir die VF Plus is elke stem belangrik. “As u moeg is vir swak diens en agteruitgang en u stem nie, verkwis u ‘n geleentheid om ontslae te raak van die huidige regering, as u stem vir die party met wie u saamstem, gee dit u ‘n kans op verandering en verbetering.”

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za