Daardie #1 treffer is Zieg se droom

0
545
Zieg FOTO: FACEBOOK

Die onderwyser, Reinhard Ziegfried Mülke, bekend as Zieg op die verhoog, vermaak deesdae talle mense met sy talent.
Sy loopbaan het eintlik op die ouderdom van 17 jaar begin toe hy ‘n paar kitaarlesse geneem het. Hy het homself verder geleer en vertel, “As student aan die Noordwes-Universiteit (PUK), het ek in ‘n rock band, Catalyst, gesing. Daarna het ek vir amper 20 jaar net vir myself musiek gemaak en in 2012 stadig weer die mark betree.”
Nie net kan hy kitaar speel en sing nie, maar hy skryf ook sy eie liedjies, wat baie gewild is onder gehore. Sy bron van inspirasie is die alledaagse lewe; dinge wat hy ervaar, sien en dit wat om hom gebeur.
Zieg se rolmodel en gunstelingmusikant is Dann Huff van die groep Giant, wat ook as vervaardiger vir sangers soos Michael Bolton, Kenny Loggins en Lonestar opgetree het.
Hy vertel dat hy enige genre “aanvat” en al musiek in verskeie genres geskryf het. “My gunsteling is sonder twyfel country rock,” verklap hy. Wat sy planne vir 2018 betref, beplan hy om sy eerste volledige album klaar te maak en uit te reik. “En dan, natuurlik, droom ek daaroor om daardie groot treffer te skryf!”
Hy glo vas daarin om elke persoon wat oor jou pad kom met respek te hanteer, soos wat jy wil hê jy gehanteer moet word.
Sy raad aan opkomende kunstenaars is om ‘n musiekinstrument te leer speel, omdat “as jy nie in musiekinstrument kan bespeel nie, kan jy nie liedjies skryf nie en dan neem niemand jou ernstig op nie”.
“Moenie ‘n dowwe afdruk van iemand anders probeer wees nie.”
As jy vir Zieg vir ‘n vertoning wil kontak, bel gerus 082-876-2180 of stuur ‘n e-pos na rmulke@gmail.com.

JERETHA OOSTHUIZEN 
jeretha@mahareng.co.za