Daar is ‘n kind binne-in almal

0
1499
Vivian Brink

Groot opgewondenheid heers onder kinderboekliefhebbers oor die digter, Vivian Brink, se kinderboek wat eersdaags gaan verskyn.

Brink, wat ‘n groot liefde vir kinders het, se boek, Foenjappie en Slymjippie se avontuur, gaan oor ‘n insek wat op ‘n reis deur Suid-Afrika gaan op soek na iets, maar waarna weet hy nie presies nie. Op sy reis ontmoet hy verskillende diere. Aan die einde van sy reis besef hy dit waarna hy gesoek het, is aanvaarding. Hy begin verstaan dat niks en niemand dieselfde is nie.

“Ek het ‘n baie groot liefde vir kinders en ek doen jaarliks iets vir ‘n kinderhuis, want die onskuld van ‘n kind is die opregste vorm van liefde wat mens ooit sal sien en aanvaar,” vertel Brink.

“Die idee vir ‘n kinderboek het ontstaan met ‘n staaltjie wat ‘n vriend aan my vertel het, en die hoofkarakter in die boek is ‘n opgemaakte mannetjie wat sy kenmerke kry by my hond. Die lekker ding van ‘n kinderboek skryf is dat mens jou verbeelding ten volle kan gebruik om kinders mee te vermaak,” voeg hy by. Brink wil graag hê mense moet uit die boek leer en mense aanvaar soos hulle is, net soos jy wil hê ander jou moet aanvaar. “Daar is nie ‘n perfekte mens in die wêreld nie, maar elkeen is uniek op sy eie manier.”

Brink sê hy het op 9-jarige onderdom begin dig. Hy wou aan sy ma ‘n droom vertel, maar die storie wou nie reg uitkom nie. Dit was die begin van sy eerste gedig. Digkuns was in sy menswees. Sy nuwe digbundel, Aande van vele denke word vroeg volgende jaar bekendgestel. Foenjappie en Slymjippie se avontuur word vroeg in 2020 gepubliseer.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za