DA soek oplossings vir agterstallige skoolsubsidies

0
771

Die DA in die Vrystaat sê die provinsiale departement van onderwys ignoreer sy voorstelle om ‘n omkeerstrategie voor te lê om vas te stel waar die departement se geldelike probleme is. Dit kom nadat die DA altesaam 30 verskillende skole oor die provinsie genader het om vas te stel of skole hul kwartaallikse subsidies van die departement ontvang. Die DA se Mariette Pittaway sê tien skole het nog nie hul subsidies sedert verlede jaar Oktober ontvang nie. Ses ander skole is sedert Januarie nie betaal nie, terwyl drie skole ‘n gedeelte van die geld ontvang het. Sy sê dit kom daarop neer dat die departement sowat 50% van alle skole, wat van die subsidies afhanklik is, in die steek gelaat het. Volgens Pittaway het die departement se swak finansiële bestuur onder leierskap van die LUR vir onderwys, Tate Makgoe, ‘n negatiewe uitwerking op plaaslike skole se prestasie.

Daar is  R1,3 miljard agterstallige rekeninge wat jaarliks ophoop. Dit plaas die departement onder meer druk, terwyl Makgoe sowat R143 miljoen spandeer aan spyseniering.

Pittaway sê dit is tyd dat Makgoe volle verantwoordelikheid vir onderwys in die provinsie aanvaar.