CHRISTAL-LIZE MULLER
Die DA in die Vrystaat sê die plaaslike departement van gesondheid het nie ‘n benul wat die volle omvang en impak van tuberkulose (TB) in die provinsie is nie. Dit volgens die DA se Mariette Pittaway nadat die LUR van gesondheid, Benny Malakoane, verlede week ‘n plaaslike veldtog begin het om groter bewustheid oor TB te skep.
Malakoane het ook die nuutste TB-syfers bekendgemaak. Pittaway sê ‘n tekort aan TB-medikasie by hospitale en klinieke vroeër vanjaar het ‘n negatiewe invloed op die provinsiale TB-syfers gehad. Volgens haar sal die DA aanhou om druk op die departement te plaas om gehalte gesondheidsorg te lewer.
Die departement se nuutste syfers toon sowat 19 000 mense oor die provinsie heen is verlede jaar met TB gediagnoseer. Meer as 900 000 mense van die 3-miljoen inwoners in die provinsie wat vanjaar tussen April tot Augustus vir TB getoets is, het simptome van TB getoon. Hiervan het meer as 7 500 mense positief getoets.