DA gaan nie lê voor VS-gesondheidskrisis opgelos is

0
579

Christal-Lize Muller

Die DA in die Vrystaat gaan nie moed opgee tot daar ‘n daadwerklike ingryping deur die nasionale gesondheidsdepartement is om swak gesondheidsorg in die provinsie reg te stel nie.

Volgens die Vrystaatse wetgewerlid, Mariette Pittaway, is dit goeie nuus dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) ingegryp het om probleme rondom die Universitas-hospitaal in Bloemfontein se uitvoerende hoof, Sehularo Gaelesjwe, se bestuurstyl en die agteruitgang van dié hospitaal se kardiologie-afdeling op te los.

Dit kom nadat verskeie gefrustreerde sleutelspelers in die afdeling bedank het en private spesialiste hul dienste onttrek het.  Volgens Pittaway is dié krisis egter ‘n druppel in die emmer en die LUR van gesondheid Benny Malakoane moet direk daarvoor verantwoordelik gehou word.

Sy meen die enigste oplossing vir die plaaslike gesondheidsorgkrisis is om die departement onder administrasie te plaas. Malakoane moet ook die trekpas kry. 

Die DA gaan ook voort om meer konkrete bewyse in te samel en aan die Menseregtekommissie (MRK) voor te lê nadat ‘n klag vroeër by die MRK teen Malakoane ingedien is.

Intussen doen gerugte die ronde dat Gaelesjwe verlof geneem het om glo sy dreigende skorsing te ontduik.