Bloemfontein – Die kampioenklubspan van KwaZulu-Natal, Kollege Rovers, het Saterdag in die Clive Solomon-stadion teen die Vrystaatse klubspan, Crusaders, met uithalerrugby gewys dat hulle moeilik uit die Cell C Gemeenskapsbeker-uitspeeltoernooi gedurende die Paasnaweek op George gehou gaan word toe hulle die Vrystaters 78-14 geklop het.
In die Vrystaatse klubreeks om die Uitdaagbeker het twee Vrystaatse spanne, Steyners en Mangaung, goeie seges oor hul teenstanders van die Griffons behaal. Steyners het Rovers in Welkom 47-0 getroef, terwyl Mangaung die Polisiespan van Welkom 26-18 geklop het.
Drie Uitdaagwebeker-wedstryde, Collegians teen Welkom, Bloemfontein Polisie teen Kroonstad en Crusaders II teen Hennenman is weens die langnaweek uitgestel.
Vir Steyners het sy vaste voorspelers, Leroy Coetzee en Polla Muller, asook die losvoorspelers, Henry de Wet en Morne Weldhagen, ’n barshou gespeel. Op losskakel het Johnny Barnard sake dikteer en met sy skopskoen die punte ingeryg.
Op sy tuisveld het Crusaders in die Cell C Gemeenskapbeker-wedstryd teen die besoekers van KwaZulu-Natal in die eerste helfte hardnekkig teenstand gebied deur met mening te duik en te verdedig. Die losvoorspelers. Randall Nelson, Jonathan Ball en Danie Viljoen, het saam met die senterpaar, Jonathan Boucher en Deon Taljaard, uitgeblink.
Crusaders het probleme met hul ingooiwerk in die lynstane gehad daarom kon sy voorspelers nie genoeg balbesit wen om hul agterlyn aan die gang te kry nie. Die kere toe daar wel goeie balbesit binne trefafstand van die besoekers se doellyn gekom is, het Crusaders goed aangeval. Dit is jammer want in Freek van Niekerk en Ball het Crusaders lynstaanrankers wat met die bestes kan saamgesels.
College Rovers het alles op volspoed gedoen . Hul kragtige aanvalle het die damwal in die tweede helfte laat breek en uiteindelik is 12 drieë ingeryg.
Punte:
Kollege Rovers (KZN) 78 (24). Drieë: Dusty Noble (2), Edlyn Serge, Jared Chiocchetti, Jean Pretorius, Jeandre Small, Kirk Twine, Kyle Wilkinson, Quinton Crocker, Shannon Rick, Warren Randall, Warrick Venter. Doel: Noble, Jors Dannhauser (8).
Crusaders 14 (7). Drieë: Isak Job, Jonathan Boucher. Doel: Deon Taljaard (2).
Ander uitslae: Roodepoort 37 Rovers (Griffons) 31; Roses United 26 Centurion 26; Old Selbornians 43 Bridgton 7; Despatch 31 Barbarians 5; Sishen (Griekwas) 35 Ferros 29; Hamilton 41 Wesbank 12; Brakpan 23 Boksburg 23.
Bepalings vir die komende naweek: Barbarians t Old Selbornians; Bridgton t Spring Roses; Roodepoort t College Rovers; Boksburg t Centurion; Wesbank t Impala; Hamiltons t Ferro; Rovers (Griffons) t Welkom (Griffons); Brakpan t Noordelikes.