Crusaders, Ixias en Shimlas wen in Stadsbeker-liga

0
Crusaders, Ixias en Shimlas wen in Stadsbeker-liga

GEORG VAN ECK

Soos verwag het die houers van die Stadsbeker, Shimlas, en die FNB Varsityskild-kampioen, Ixias, hul eerste wedstryde in die Vrystaatse klubliga om die Stad- en Rowanbeker gewen, maar nie een van die twee spanne kan heeltemal tevrede voel met hul vertonings nie. Dit was egter in die stryd tussen die twee oop klubs, Crusaders en Bloemfontein-Polisie, waar die vonke op Bobbiespark gespat het. Polisie en Crusaders en Polisie ding nie net om die Stad- en Rowanbeker mee nie. Die span wat die hoogste in die liga eindig, sal die Vrystaat weer aanstaande jaar in die Cell C Gemeenskapbeker-reeks verteenwoordig.
Crusaders het die eerste klubkragmeting gewen nie net omdat sy eerste span die Bobbies 25-22 geklop het nie, maar sy tweede span het Polisie se Apollos ook 31-24 getroef.

Crusaders het met sy vinnige agterspelers en vermoë om enige fout blitsig uit te buit die eerste helfte oorheers. Donovan Ball, agtsteman van Crusaders, het die tuisspan met sy kragtige lopies laat bontstaan.  In die tweede skof het Polisie se agttal met sterk dryfspel en die oordeelkundige gebruik van sy agterlyn Crusaders probleme besorg en die agterstand vinnig uitgewis, maar nie vinnig genoeg nie. Op Shimlapark moes Ixias met mening inklim om Irawas se aanslag af te weer. Danksy goeie skrumwerk en die lynstaanwerk van Ockie van Zyl het die Irawas genoeg balbesit gewen om Ixias se verdediging deeglik te toets.

Vir Ixias het veral sy losvoorspelers, Jean Luke van Zyl en Dean Kauprihanoff, uitgeblink, terwyl die senterpaar, Mapelo Mpondo en Duan Pretorius, en heelagter Kholo Ramashala die Irawas probleme agter besorg het. Shimlas het tien drieë in hul sege van 68-10 oor die Tjisas gedruk. Aan die voorpunt van die aanslag was die blitsige buite-agterspelers en veral die linkervleuel JJ de Klerk, wat vyf drieë gedruk het. Vir Tjisas was hul kaptein en flank, Fanie Coetzer, en Johan Klopper, die groot uitblinkers.

Punte:
Crusaders 25 (17). Drieë: Warren van Wyngaard, Donovan Ball (2), Brendan Colby. Doel: Leroy Bitterhout. Straf: Bitterhout. Bloemfontein-Polisie 22 (3). Drieë: JP Terblanche, Sean Rheeder, Johan Matthysen, Doel: Frankie van Heerden (2). Straf: Franco van der Merwe.
Ixias 26 (13). Drieë: Kholo Ramashala, Mapelo Mpondo. Doel: Duan Pretorius (2). Straf: Pretorius (4). Irawas 17 (5). Drieë: Riaan Schoeman, Henco Greyling (2), Doel: Warren Potgieter.
Shimlas 68 (40). Drieë: Marco Mason, JJ de Klerk (5), Thys Smit, Wickus Deysel, Rudolf Botha, Ockie van Zyl. Doel: Franna du Toit (9). Tjisas 10 (3). Drie: Brian Malakoane. Doel: Fanie Coetzer. Straf: Naude van Biljon.
Bepalings vir die naweek:
Vrydag – Tjisas (SUT) t Irawas om 20:00 in die SUT-stadion. Saterdag- Crusaders t Shimlas om 16:15 in Clive Solomon-stadion; Ixias t Plisie om 17:45 in die SUT-stadion.

georg@centralmediagroup.co.za

No posts to display