Courant Sportster van die Week – Adriaan Strauss

0
662

Een van die uitblinkers in die Springbokke se sege die afgelope naweek in die toets teen Ierland was sonder twyfel die Toyota Vrystaat Cheetahs- en Bokhaker, Adriaan Strauss, of soos hy alom bekend is, Atter. Suid-Afrika het die toets op die Aviva-stadion met 16-12 gewen, nadat hulle rustyd 3-12 agter was. Dit was Strauss se 19de wedstryd in die groen-en-goud-trui, en kenners meen dit was moontlik sy beste nog. Wat die wedstryd ook so besonders vir Strauss gemaak het, is dat hy teen sy neef, oud-Cheetahhaker, Richardt, geskrum het.
Die leierskapsrol wat Strauss in die span speel, is duidelik. Die onderkaptein het by verskeie geleenthede tydens die wedstryd die voorspelers in ’n kringetjie bymekaar geroep en met hulle gepraat.
Kaptein, Jean de Villiers, het na afloop van die kragmeting gesê sy span se uitstekende verdediging was een van die sleutels tot hul sukses. In hierdie verband, het Strauss, en onder meer slot Eben Etzebeth en flank Marcel Coetzee uitgestaan. Strauss se ingooie in die lynstane was in die kol, en sy vermoë as baldraer was dikwels te sien waar hy aan die voorpunt van stormlopies in die tweede helfte was.
Waar die besering van Bismarck du Plessis vroeër vanjaar die Springbokbestuur dalk laat kopkrap het, het Adriaan Strauss die afgelope paar maande gewys dat hy meer as ’n waardige plaasvervanger is – nie net wat sy spel betref nie, maar ook sy positiewe invloed op die span.
Die Springbokke pak Skotland Saterdag op die geskiedkundige Murrayfield in Edinburg.
– geborg deur Makro Bloemfontein