Courant ryer in SA fietsryspan gekies

0
Courant ryer in SA fietsryspan gekies
Damean Oosthuizen, kranige fietsryer van die Aerocare Bloemfontein Courant-span, is ingesluit in die Suid-Afrikaanse fietsrygroep van agt lede wat in Julie die land op verskeie byeenkomste van die UCI in Europa gaan verteenwoordig. FOTO: HYNNES HERSELMAN

Die uitmuntende fietsryer van die Aerocare Bloemfontein Courant-span, Damean Oosthuizen, se prestasies in 2016 het die Suid-Afrikaanse fietsryfederasie se keurders genoop om hom in te sluit in die nasionale fietsrygroep van agt lede wat in Julie die land op verskeie byeenkomste van die UCI (Union Cycliste Internationale) in Europa gaan verteenwoordig.

Oosthuizen, wat ‘n leerling by Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein is, gaan in Europa poog om sy kleim so goed moontlik af te steek om sodoende die Suid-Afrikaanse span te haal wat in Oktober die groen en goud gaan dra op die UCI-wêreld-padwedrenkampioenskap wat in Doha, Katar, beslis word.

Die span van agt, wat in Europa gaan koppe stamp, is gekies volgens hul plaaslike vertonings tot dusver vanjaar. Vertonings tydens die Suid-Afrikaanse padwedrenkampioenskap en ook die junior proefwedrenne wat in Mei in Pietermaritzburg gehou is, het die meeste gewig gedra wat die keuringsproses aanbetref.

Onder die arendsoë van die nasionale keurders wat op die laasgenoemde byeenkoms teenwoordig was, het Oosthuizen geskitter deur drie podiumplekke los te trap. Hy was tweede in al drie wedrenne waarin hy meegeding het en was die enigste junior wat die onderskeiding kon behaal om plekke onder die eerste drie te behaal in drie wedrenne.

Oosthuizen het vanjaar reeds in nege wedrenne die hoogste trap van die podium bestyg en het uitgeblink op die pad, baan en in bergfietswedrenne. Hy was onder meer derde op die Suid-Afrikaanse padwedrenkampioenskap en het sy veelsydigheid onderstreep toe hy goud gebuit het op die Suid-Afrikaanse baankampioenskap in die omniumafdeling.

Hy was boonop die tweede junior in die grootste padwedren in Suid-Afrika, die Cape Town Cycle Tour. Hy is tans ook die voorloper van die Vrystaat junior- bergfietsryreeks in die marathonafdeling.

Sluit jy Oosthuizen se nege oorwinnings in 2016 in, het hy vanjaar reeds 21 keer in verskeie wedrenne ‘n plek op die podium losgetrap.

No posts to display