Courant bring gratis slypskool vir liedjieskrywers

0
Courant bring gratis slypskool vir liedjieskrywers

MARICELLE BOTHA
Die eerste slypskool vir kykNET se Afri-Visie ‘Skryf ‘n treffer’-kompetisie is onlangs met groot sukses by die KKNK in Oudtshoorn gehou.
Dit was die begin van ‘n reeks slypskole wat landwyd aangebied word as deel van kykNET se nuwe realiteitsreeks Afri-Visie ‘Skryf ‘n treffer’-kompetisie. Op 26 April word kykNET se Afri-Visie ‘Skryf ‘n treffer’-kompetisie se Bloemfontein-slypskool aan jou gebring deur Bloemfontein Courant. Plaaslike liedjieskrywer William Loots sal aspirantskrywers in die Rosestad touwys maak.
Die doel van die slypskole is om soveel moontlik nuwe talent te ontgin en bemagtig in die hoop om ‘n nuwe skatkis van Afrikaanse musiek tot stand te bring. Ná die slypskole word skrywers gevra om hulle musiek te skryf en in te stuur, van waar ‘n paneel die koring van die kaf sal skei en uiteindelik die werkbare skrywers sal uitnooi na streeksuitdunne. Dan sal plaaslike gemeenskappe help om te stem vir die top-drie liedjies uit elk van die agt streke. Die 24 liedjies sal dan deelneem teen mekaar in semi-finale en uiteindelik sal die beste nuwe liedjieskrywer in die land in die eerste helfde van 2015 by ‘n baie spoggerige geleentheid wat lewendig op kykNET uitgesaai sal word, gekroon word.
Die slypskool in Bloemfontein word by Inni Skuur gehou en is gratis. Al wat belangstellendes moet doen is om na kykNET se Afri Visie-bladsy te gaan en daar te registreer.
Volgens die organiseerder Heidi Edeling word daar elke jaar sowat 120 Afrikaanse albums vrygestel wat beteken dat meer 1 200 liedjies per jaar benodig word en daar elke dag drie tot vier nuwe liedjies geskep moet word om al hierdie albums te bedien. "Daar is ‘n groot tekort aan goeie Afrikaanse liedjieskrywers. Baie liedjieskrywers skryf pop of kontemporêre popmuskiek, maar daar is baie ander geure in Suid-Afrika wat ons nog nooit gehoor het nie en dit is tyd dat ons dit hoor."
Edeling sê jy hoef nie alreeds ‘n liedjieskrywer te wees nie. As jy ‘n liedjie in jou kop het, of ‘n idee, of ‘n liriek, kom woon die slypskool by. "Kom ontmoet ander liedjieskrywers en sien hoe hulle werk. Miskien het jy lirieke maar dalk nog nie ‘n melodie nie en dalk kan iemand anders by die slypskool jou help."

maricelle@centralmediagroup.co.za

No posts to display