Bloemfontein speel hierdie naweek gasheer van die Suid-Afrikaanse Country en Western Dans (SACWD) se interprovinsiale kompetisie, wanneer 114 dansers gaan meeding by die Laerskool Sand du Plessis.
“Die SACWD is ’n vooraanstaande Country Western-dansorganisasie wat internasionaal aan die World Country Dance Federation verbonde is,” het Tyla Giles, direkteur: sosiale media, geleentheidbestuurder, beoordelaar, en danser by die SACWD vertel.
Sy het verder bygevoeg: “Die SACWD is gestig in 2013, en het vinnig na vore gekom as ’n toonaangewende Country Western-organisasie in Suid-Afrika, met 16 klubs regoor die land en meer as 171 lede van verskillende ouderdomme en dansvaardighede.”
Suid-Afrikaanse Country en Western-danse sluit lyndans en “Country Couples”-danse in en gee dansers die kans om deel te neem aan sosiale dans of kompetisies – beide nasionaal en internasionaal.
Volgens Giles het ’n span van 18 dansers in Junie Suid-Afrika by die World CDF Wêreldkampioenskappe in Spanje verteenwoordig, en ’n indrukwekkende 32 goue medaljes, asook 17 silwer en brons medaljes verwerf.
In totaal sal 114 dansers van 10 klubs in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo, en Gauteng oor die naweek aan die interprovinsiale kompetisie deelneem.
“Ons beoordelaars sal ’n indrukwekkende 214 afdelings van verskillende vlakke moet beoordeel,” het Giles vertel.
Sy het verder verduidelik dat die Interprovinsiale Kampioenskappe dien as die finale kwalifiserende kompetisie vir die gesogte WCDF Suid-Afrikaanse Ope. “Boonop dien die kompetisie as ’n strydperk vir provinsiale spanne wat meeding vir ’n gesogte plek op die SACWD Suid-Afrikaanse Span om deel te neem aan die SA Ope, wat in Oktober vanjaar gehou word,” het sy gesê.
Vir Giles, en die ander organiseerders, is daar ook baie om na uit te sien. “Dit is altyd ’n trotse oomblik wanneer jy sien hoe ’n danser gegroei en ontwikkel het van een geleentheid na die volgende,” het sy verduidelik.
“Persoonlik hou ek van die sosiale aspek van die kompetisies. Baie lag en vreugde is op die mededingende en sosiale dansvloer te sien.”
Dié danskompetisie begin Vrydag 9 Augustus om 13:00, en sluit Saterdag 10 Augustus af.
Giles moedig die publiek aan om die geleentheid te ondersteun: “Die geleentheid verwelkom toeskouers van die publiek, met ’n toegangskoste van R55 per persoon terwyl kinders onder 4 jaar gratis toegang geniet.”
Warren Hawkins