#Corona_Concerts’ help plaaslike kunstenaars

0
1037
Daniel Wesley Africa

Met die huidige pandemie wat die land in die gesig staar, is kunstenaars van oral oor die hardste getref en sukkel hulle om ’n lewe te maak. Gelukkig gaan die bekroonde moderne country-sanger en liedjieskrywer, Daniel Wesley Africa, regstreeks ’n konsert aanlyn aanbied wat jou en jou geliefdes nie net tuis sal vermaak nie, maar ook sal help om kos op plaaslike kunstenaars se tafel te sit.

Die #Corona_Concerts_Bloem is daarop gemik om plaaslike kunstenaars by te staan deur ’n platform te skep om in ’n veilige omgewing op te tree. Volgens Wesley sal die “live stream”-konsert op Facebook plaasvind met ’n vyf-reeks “live stream”-konsert. “Ons sal hierdie platform gebruik om geld in te samel vir plaaslike kunstenaars wat nie meer in openbare ruimtes kan optree nie.

Sommige van hierdie kunstenaars het geen ander inkomste nie, daarom was dit vir my so belangrik om hierdie platform te skep om ’n helpende hand te bied,” sê Wesley. ’n Verskeidenheid kunstenaars, van voltydse sangers tot ’n plaaslike tromspeler, sowel as van die stad se bekendes, word verwag. Volgens Wesley kan mense uitsien na ’n akoestiese vertoning van 40 minute lank met iets lekkers tussenin om hulle te vermaak, musiek van uitstekende gehalte en topkunstenaars.

Wesley, wat ook deel sal vorm van die aanbieding, se eerste solo-album, “Rule The World” het hom die toekenning as “Beste nuwe kunstenaar” besorg by die gesogte South African Country Music Awards (SACMAF) in November 2019. Daniel se werk is ook in die buiteland raakgesien en beloon deurdat hy benoem as beste nuwe internasionale kunstenaar tydens die Texas Sounds International Country Musictoekennings.

Besoek sy Facebook-blad @ Daniel Wesley Africa vir meer inligting oor die aanlynkonsert, wanneer dit plaasvind, asook hoe om betrokke te raak. Bankbesonderhede sal op die regstreekse uitsending geplaas word vir donasies om plaaslike kunstenaars te help.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za