Corona Classics met Jacobus Silwer en kie

0
1049

Bloemfontein se geliefkoosde sanger/liedjieskrywer, Jacobus Silwer, bied more, Saterdag 16 Mei 2020, ‘n aanlyn- klassieke konsert aan soos nooit vantevore nie.

Die gedagte rondom die aanlynkonsert is gebore toe sy vrou, Lizamé Coetzee, met die idee vorendag gekom het dat hulle iets moet aanpak om musikantvriende uit verskillende genres te help met ‘n inkomste tydens die inperking.

Die naam Corona Classics het sy beslag gekry toe die paartjie uitvind dat daar nêrens platforms is vir kunstenaars wat meer in die genre vir ligte klassieke musiek val nie. Die konsert se doel is om geld in te samel vir plaaslike kunstenaars.

“Baie van hierdie sangers en musikante is ook slegs op hul optredes aangewese vir hul maandlikse inkomste en sal grootliks by so ‘n geleentheid kan baat vind,” sê Silwer.

Hy beskryf die konsert as “kort en kragtig” met maksimum vyf snitte per episode met die idee om die gehoor op sy tone te kan hou vir die volgende episodes. “Ek is deel van nog twee ander regstreekse musiekplatforms en dit het my laat wonder oor ons vriende in die ander genres van die bedryf. Waar gaan hulle so ‘n geleentheid kry?

“Ons doen hieride vir ons mense, die Bloemfonteinse musiekmense vir wie ons so lief is. Ons het elkeen iets om te gee, en ek voel ons het almal gelykmatige geleentheid nodig om dit ten toon te stel,” sê Silwer.

Met die Covid-19-pandemie is alle kunstenaars hard getref. Volgens hom moet almal nou “nuut” begin dink oor hoe hulle vorentoe hul loopbane aan die gang gaan hou.

“Plaaslike kunstenaars, as ons mekaar ondersteun deur na mekaar se welstand te verneem, ‘n brood of ‘n 2 liter-melk af te lewer, of net om seker te maak alles is nog oukei, sal ons dit maak,” sê Silwer.

Om na nuwe, fenominale kunstenaars te luister, maak seker jy skakel Saterdag, 16 Mei 2020 om 13:00 op Jacobus Silwer se Facebook-blad in. Bloemfontein se talentvolle Cézanne Yzelle sal die eerste gaskunstenaar van die vertoning wees.

Om die konsert moontlik te maak, het verskeie kunstenaars en ondernemings hulp verleen.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za