Kompetisie 3
Een gelukkig leser kan al drie hierdie boeke wen. Kliek hier om in te skryf.
Een nag in Vegas – Elize Mitchell
Telani is deur ’n nagmerrie-ervaring met ’n verbreekte verlowing en het gehoop om in Amerika ontvlugting – sowel as ’n nuwe baan as arbeidsterapeut – te vind. Helaas, die posisie waarvoor sy wou aansoek doen, is reeds gevul. Op haar voorlaaste aand in Las Vegas ontmoet sy ’n oorrompelende Afrikaanse man. Ná ’n paar glase sjampanje beland die twee by ’n kitskapel. Toe Telani die volgende oggend wakker word, is dit as getroude vrou, teen haar sin – sy’t gedink dis alles net speletjies!
Simon oortuig haar om saam met hom huis toe te kom, as ’n blote saketransaksie tussen die twee van hulle, want hy’t ’n seuntjie tuis in Suid-Afrika wat hulp nodig het en Telani is platsak. Sy willig in en in Kaapstad gekom leer sy Simon se disleksiese kleinding liefkry. Sy tannie, Dianne, is egter ‘n ernstige vlieg in die salf. Telani weet sy moet hierdie skynhuwelik laat ontbind, en wanneer haar verlore verloofde ook weer sy opwagting maak, kom sake op die spits. Wat is Simon vir haar, buiten ‘n kamma-kamma-bruidegom?
Om joune te wees – Schalkie van Wyk
Kayla se studies is afgeloop en sy keer bly terug na haar geliefde tant Annelize en hul huishoudster, ta Trynie, by Huis Kanferfoelie. Sy’s egter nie die enigste nuwe aankomeling nie: Hul nuwe bure is ’n spul hippies met ongelooflik raserige motorfietse, en onder hulle is daar een met taankleurige oë soos ’n arend . . . Kayla en haar motortjie maak abrup kennis met Briand en sy fiets, en sy ontdek dat hy, nes haar ouers op hul beesplaas, in Brasilië werk en eintlik net by die bure kuier. Kayla se hart werk dadelik oortyd, maar sal Briand se oog nie eerder val op haar sexy blonde vriendin Sunette nie?
Dan is dit die een drama ná die ander: Tant Annelize verseg dat Briand ooit sy voete in haar huis mag sit, want sy “weet” kwansuis hy sal Kayla se lewe verwoes; die huis aan hul ander kant van die hippies word betrek deur ’n immer-repeterende band; en Kayla leer boonop dat Briand nooit ooit wil trou nie.
Kayla begin weens al die oorverdowende geraas glo iemand wil haar en haar tantes uit die huis verdryf. Het Briand nie dalk iets daarmee te doen nie? En watter tragiese geheime skuil in haar tante se liefdeslewe?
Sluimerliefde – Susan Pienaar
Karli en Henk was aanvanklik beste maats toe sy by hom ’n kamer gehuur het. Maar skielik het hy stringe meisies begin huis toe bring, en boonop het hy en Karli stry gekry omdat hy rojaal leef en Karli gewoond is aan versigtig wees. Sy het uitgetrek en self ’n aanhangsel gekry, maar die naweek in Golden Gate was lankal beplan. Nou moet Henk se nuutste meisie, Anchen, en Karli se vatterige Maritz noodgedwonge saam op die naweek. Van die eerste sekonde maak alles wat Anchen en Maritz doen Karli heeltemal mal. Maritz klou en koer aaneen en Anchen doen dieselfde met Henk – wat sien hy tog in haar! Die naweek by Golden Gate raak ’n nagmerrie, met Maritz se vuil streke, bobbejane wat verwoesting saai en Anchen se mislikheid met Karli. En Henk vang boonop dinge met Karli aan wat haar laat dink hy moet ’n player wees, al geniet sy dit hóé. Terug in Gauteng lyk dit asof hul vriendskap gekelder sal word deur Anchen. En hoekom, hoekom kry Karli dit tog nie reg om die vreemde gedagtes en drome oor Henk uit haar kop te sit nie? Hy’s haar goeie vriend en boonop ’n rokjagter . . .