Kompetisie 1
Een gelukkig leser kan al drie hierdie boeke wen. Kliek hier om in te skryf.
Een nag in Vegas – Elize Mitchell
Telani is deur ’n nagmerrie-ervaring met ’n verbreekte verlowing en het gehoop om in Amerika ontvlugting – sowel as ’n nuwe baan as arbeidsterapeut – te vind. Helaas, die posisie waarvoor sy wou aansoek doen, is reeds gevul. Op haar voorlaaste aand in Las Vegas ontmoet sy ’n oorrompelende Afrikaanse man. Ná ’n paar glase sjampanje beland die twee by ’n kitskapel. Toe Telani die volgende oggend wakker word, is dit as getroude vrou, teen haar sin – sy’t gedink dis alles net speletjies!
Simon oortuig haar om saam met hom huis toe te kom, as ’n blote saketransaksie tussen die twee van hulle, want hy’t ’n seuntjie tuis in Suid-Afrika wat hulp nodig het en Telani is platsak. Sy willig in en in Kaapstad gekom leer sy Simon se disleksiese kleinding liefkry. Sy tannie, Dianne, is egter ‘n ernstige vlieg in die salf. Telani weet sy moet hierdie skynhuwelik laat ontbind, en wanneer haar verlore verloofde ook weer sy opwagting maak, kom sake op die spits. Wat is Simon vir haar, buiten ‘n kamma-kamma-bruidegom?
Te Eenders, te anders – Elsa Winckler
Aileen het lank rondgeval tussen beroepe en oorsee rondgerits, maar nou is sy terug op Stellenbosch en sy weet wat sy wil hê: haar eie pâtisserie wat Stellenbossers sal wys hoe fyngebak nou eintlik lyk. Sy’t reeds die perfekte perseel gevind, ook. Maar . . . die eienaar van die gebou is absoluut, heeltemal onmoontlik!
Allen Muir is alles wat Aileen verfoei: eiewys, humeurig, vinnig om kwaad te word – inderdaad ’n rooikop, nes sy self, maar sowaar, sý ken darem maniere! Wanneer sy saam met ’n vriendin ’n lesing oor persoonlikheidstipes bywoon, weet sy dit vir seker: Sy en Allen sal nooit om dieselfde vuur kan sit nie.
En tog . . . Sy’s al baie gesoen, onder meer deur ’n Fransman, en niemand se soene is naastenby so opwindend soos wanneer Allen selfs net naby haar kom nie . . .
Locum vir Liefde – Malene Breytenbach
Laura het onlangs weduwee geword, en die Russiese skeepsreis na St. Petersburg was veronderstel om haar wonde te help heel. In plaas daarvan is daar die sjarmante dog lastige skeepsdokter Andrei en haar ontstemmende Ierse reisgenote, en veral Kyle Barrymore met sy bloubloed-verloofde. Maar ná die kort reis is dit alles iets van die verlede; sy sal Kyle nooit weer sien nie.
Tot sy ’n locum-pos in Ierland aanvaar om van haar hartseer te probeer ontvlug. Ten spyte van al haar reëlings, wat ontwerp was om Kyle te vermy in sy tuisland, beland sy tog in sy dampkring. Binnekort leer sy hoe die omstandighede in Ierland met menselewens kan werk wanneer bomme in Derry ontplof en die Barrymore-familie, wat sy intussen leer ken het, ook onder skoot kom. In die vreemde stad en tussen mediese mense van allerlei lande – maar ook die Suid-Afrikaanse dokter Ertjies du Plessis, wat sy belangstelling in Laura baie duidelik maak – moet sy haar hart oppas en haarself gedurig herinner aan die ander vroue in Kyle se lewe.
Dan kom haar eie lewe boonop in gevaar, en sy leer die krag van vrouejaloesie . . . maar ook van ware liefde.






