Colby het groot planne vir VS-rugby

0
206
Die nuwe hoofbestuurder van die Vrystaat Rugbyunie, Selvyn Colby.

Nadat Selvyn Colby in 2018 as hoofbestuurder van die Vrystaat Rugbyunie waargeneem het, kan hy nou spog met ‘n permanente aanstelling. Colby is geen nuwe gesig nie. Hy is reeds 12 jaar aan die unie verbonde as bestuurder van amateur-rugby.

As waarnemende hoofbestuurder het Colby ‘n deeglike studie gemaak van al die aktiwiteite van die Vrystaat Rugbyunie. “Ek het definitiewe idees hoe om met geringe veranderinge ons stelsels baie beter te maak. Ek het ook al die werknemers in 2018 assesseer en weet hoe om die personeel meer produktief te laat funksioneer in hul onderskeie rolle,” het hy gesê.

As hoofbestuurder het hy redelik baie hooi op sy vurk. Hy is verantwoordelik vir die bestuur, beheer en toesig oor die personeel en al die aktiwiteite van die Vrystaat Rugbyunie. “Dit sluit in die onwikkeling en uitbreiding van amateur-rugby in die totale bedieningsarea van die Vrystaat Rugbyunie. Ek sal ook betrokke wees by die skep en bestuur van hoëprestasie-amateurspanne op alle vlakke, en ook skakel met die Vrystaat Cheetahs Maatskappy (Edms.) Bpk.”

Colby sien uit daarna om spinternuwe planne te implementeer. Hy wil vir seker deelname verbeter op verskillende vlakke, onder meer grondfase, gemeenskap, jeug en klubrugby. Hy wil spelers na skool behou en getalle verhoog deur ‘n onder 20-liga te begin. Hy sal ook graag ‘n geleentheid aan amateurspelers bied om op die hoogste vlak moontlik aan die sport deel te neem.

“Ek wil ook die profiel van rugby verhoog en sodoende deelname in die Vrystaat uitbrei. Ek wil die spel en betrokkenheid by rugby meer opwindend maak om spelers en klubs geïnteresseerd, betrokke en gemotiveerd te hou. Ons sal ook verhoudings met ander belanghebbendes soos DSARC, DBE en die MMM bou,” het Colby verduidelik.
Colby sê hy sien uit na die nuwe uitdaging wat voorlê. “Ek wil net die werk tot die beste van my vermoë doen.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za