Coetzee verkies tot Saskok-atleetkommissie

0
382
Louzanne Coetzee en haar gids, Xavier Adams FOTO: REINHARDT HAMMAN

Die paralimpiese atleet van Bloemfontein, Louzanne Coetzee, is een van ses atlete wat verkies is om op die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en die Olimpiese Komitee (Saskok)-atleetkommissie te dien.

Die eerste verkiesing vir die atlete-kommissie het op 10 en 11 Maart 2021 plaasgevind deur die virtuele verkiesing van Suid-Afrikaanse nasionale en internasionale atlete wat erken word as lede van Saskok.

Die nuwe lede sal vir die volgende vier jaar dien. Ander lede wat verkies is, is Khotso Mokoena (Atletiek Suid-Afrika), Bridgitte Hartley (Kanovaart Suid-Afrika), Ernst van Dyk (Fietsry-Suid-Afrika), Sizwe Ndlovu (Roei-Suid-Afrika) en Jeff Coetzee (Tennis-Suid-Afrika).
Coetzee sê dit beteken baie vir haar dat die SASAPD soveel vertroue in haar stel.

“Ek voel geëerd en aangeraak dat die atlete vir my gestem het. Ek is opgewonde oor die uitdagings wat voorlê. “

Die Paralimpiese atleet, wat ‘n koshuishoof aan die Universiteit van die Vrystaat is, sê die kommissie se rol is om sportlui te verteenwoordig en saam met Saskok te werk om die omstandighede vir atlete te verbeter.

Die Kovsie-atleet is die Suid-Afrikaanse rekordhouer van 1 500 m in die T11-klassifikasie (algeheel blind), die wêreldrekordhouer in die 5 000 m en Afrika-rekordhouer in die 800 m.
Alhoewel sy sê die kommissie nog ‘n strategiese plan moet ontwikkel, wil sy graag die liggaamlik gestremde en langafstandatlete verteenwoordig.

“Uiteindelik is dit ‘n platform waar ek alle atlete kan verteenwoordig. Ek wil graag ‘n stem vir hulle wees en kyk hoe en waar ons sport in Suid-Afrika kan ontwikkel en dit kan verbeter vir diegene wat daaraan deelneem.” – MORGAN PIEK