Coetzee opgewonde oor die Paralimpiese Spele

0
874
uzanne Coetzee tydens die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro in Brasilië saam met haar destydse gids, Khotatso Mokone. FOTO: WESSEL OOSTHUIZEN Copyright picture by WESSEL OOSTHUIZEN / SASPA

Die langasem van Bloemfontein, Louzanne Coetzee, is slaggereed om vir die tweede keer in haar loopbaan deel te neem aan die Paralimpiese Spele, wat vanjaar in Tokio, Japan sal plaasvind.

Die blinde wêreldrekordhouer het haar buiging in 2016 in Rio de Janeiro gemaak by die Paralimpiese Spele, maar ongelukking is sy tydens die T11 1500m vir vroue gediskwalifiseer weens ‘n tegniese fout wat deur haar gids begaan is. Coetzee het egter geleer deur dié dure les en sy is nou nóg meer gemotiveer om haar staal in Japan te toon. Sy sal vanjaar aan twee items deelneem en van twee gidse gebruik maak.

Coetzee sal in die T11 1500m deelneem waar sy bygestaan sal word deur Estean Badenhorst. Dan sal sy ook deelneem aan die marathon. In die 42,2km-padwedloop sal die gesoute marathonatleet, Claus Kempen, as haar gids dien. Kempen het al die Soweto- asook die Berlyn- en Londen-marathon saam met Coetzee gehardloop.

Coetzee sal egter nie tevrede wees om net aan die marathon deel te neem nie. Haar doelwit is duidelik. Sy soek die goue medalje en sy wil dit oortuigend wen in ‘n wêreldrekordtyd.

Coetzee het aan Bloemfontien Courant gesê dat daar groot opwinding heers en dat hulle nie kan wag om na Japan te reis om aan die Spele deel te neem nie.

“Ons is baie opgewonde om te gaan”, het die 28-jarige atleet aan Bloemfontein Courant gesê. “Ons wag al ‘n geruime tyd om te gaan, so ons is baie opgewonde dat dit uiteindelik gaan gebeur. In ‘n sekere sin voel dit onwerklik want daar was vir ‘n lang tyd onsekerheid of dit gaan gebeur en hoe dit gaan gebeur. So, ja, ons is baie opgewonde.

“Ek sien baie uit na ‘n goeie wedloop. Ek het baie hard voorberei en alles het tot dusver glad verloop. ‘n Mens hoop nooit om gediskwalifiseer te word nie, maar kom ons hoop maar dat dit nie weer gebeur nie.

“Ek sal aan twee items deelneem. Ek sal die 1500m doen met Estean Badenhorst as my gids. Dan sal ek ook deelneem aan die marathon met Claus Kempen. Die 1500m sal egter my groot fokus wees. “Ons vertrek binnekort en ek kan nie meer wag nie.”

Die 2020 Paralimpiese Spele begin op 24 Augustus and sal duur tot 5 September. Coetzee sal op 29 en 30 Augustus deelneem aan die 1500m, en op 5 September hardloop sy die marathon. – MORGAN PIEK