Coetzee na Solidaritybeker-toernooi

0
955
Gerald Coetze FOTO: LOUIS BOTHA/ GALLO

Die 19-jarige snelbouler van die VKB Knights, Gerald Coetzee, het vroeg Dinsdagoggend na Pretoria vertrek vir die 3TC (three-team cricket)-wedstryd, waar hy die naweek sal meeding in die eerste weergawe van die Solidarity-bekerkriekettoernooi.

Coetzee, wat ook weet hoe om sy man te staan met die wilgerlat, het aangesluit by die Kingfishers, wat deur die Proteas-blits, Kagiso Rabada, aangevoer sal word.

Coetzee vervang nog ‘n Protea-speler, Chris Morris, wat hom aan die toernooi onttrek het.

Die rede vir Morris se onttrekking is nie bekend nie. Dit is die tweede keer in sy jong loopbaan dat Coetzee nadergetrek word as plaasvervanger nadat hy aan die einde van 2019 deur die Jozi Stars ingespan is in die Mzansi Superliga.

Dit is wel in die middel van die winter, maar siende dat die 2019/20- plaaslike seisoen kortgeknip is en daar geen ander regstreekse sport in Suid-Afrika plaasvind nie, heers daar groot opwinding oor dié kragmeting.

Die wedstryd is ook uniek aangesien drie spanne, die Kingfishers, die Eagles en die Kites, almal in een kragmeting teen mekaar te staan sal kom. Dit is die eerste keer dat so ‘n wedstryd sal plaasvind.

Coetzee het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy uitsien na die nuwe formaat, en ook om vir ‘n slag weer te speel.

“Niemand het op die stadium beplan om te speel nie todat die toernooi aangekondig is. Dit is egter is ‘n baie goeie geleentheid om teen en saam met van die grootste name in Suid-Afrikaanse krieket te speel.

“Ek is baie bevoorreg en opgewonde om te sien wat met hierdie nuwe formaat gaan gebeur. Die wedstryd sal beslis baie vermaak verskaf, hoewel ek nie regtig weet wat om te verwag nie.”

Die wedstryd sal Saterdagoggend om 11:00 by SuperSport-park in Centurion plaasvind, en sal regstreeks uitgesaai word. – MORGAN PIEK