Coetzee beïndruk tydens VS-buiging

0
1211
Gerald Coetzee tydens die Nasionale Skole T20-toernooi in Pretoria in Maart. Coetzee het met sy vertoning op dié toernooi grootliks bygedra tot Saint Andrew's School se sukses. Saints is as die 2018-kampioen van Suid-Afrika gekroon. FOTO: MORGAN PIEK

Die 18-jarige snelbouler van Saint Andrew’s School in Bloemfontein, Gerald Coetzee, het Sondag sy eersterangsekrieket-buiging vir die Vrystaat gemaak en reeds sy stem goed dik gemaak.

Coetzee het tydens ‘n eendagwedstryd tussen die Vrystaat en die Noordelikes op die Mangaung-ovaal in die Rosestad vyf plaatjies platgetrek.

Noordelikes het die geloot gewen en die besoekers ingestuur om eerste te kolf in bewolkte toestande, wat die boulaanval met ‘n bietjie ekstra swaai gehelp het.

Die Vrystaat is vir ‘n skamele 168 lopies in 46.1 boulbeurte uitgeboul, met min van die span wat beïndruk het met die wilgerlat. Thandolwethu Mnyaka, wat tiende op die kolflys was, het met 45 lopies die hoogste telling vir die Vrystaat aageteken, terwyl nog ‘n oud-Saints-leerder, Dilivio Ridgaard, 27 lopies bygedra het. Die aanvangskowler, Karabo Mogotsi, het 21 lopies aangeteken.

Ongeluking is Coetzee, wat op sy beurt ‘n uitstekende kolwer is, vir een lopie BVP betrap.

Coetzee se heel eerste paaltjie in eersterangse krieket was dié van Jonathan Vandiar, wat vir een lopie uitgeboul is. Coetzee het toe sy Suid-Afrikaanse o.19-krieket-wêreldbekerspanmaat, Wandile Makwetu, vir 35 lopies BVP betrap. Die tiener het die oud-Vrystaater, Leus du Plooy, die trekpas gegee vir sy derde paaltjie toe hy deur Paballo Mogoera uitgevang is vir 31 lopies.

Coetzee het ook vir Ruan de Swardt (14) en die man wat sy plaatjie ingepalm het, Gregory Mahlokwana (1), verwyder vir boulsyfers van 33/5 in 10 boulbeurte.

Ongelukkig vir die Vrystaat was Coetzee se vertoning met die bal nie goed genoeg om ‘n sege te beklink nie. Noordelikes het die kragmeting net-net met twee paaltjies gewen, en dit te danke aan ‘n uitstaande, onoorwone 53 lopies deur die oud-VKB Knights-speler, Diego Rosier, wat ook die span aangevoer het. – MORGAN PIEK