Cobus en Jaco Reinach straks 10de pa-en-seun-Springbok

0
3688
RUFUS BOTHA

Indien niks onvoorsiens gebeur nie gaan die woelige en talentvolle Sharks-skrumskakel, Cobus Reinach, Saterdag in sy legendariese pa, wyle Jaco Reinach, se voetspore volg met Springbokkleure in rugby.

Hulle sal dan slegs die tiende pa-en-seun-kombinasie wees om hierdie onderskeiding te behaal en dit uit 835 Springbokke wat sedert die eerste toets op 30 Julie 1891 teen Britanje die Groen-en-Goud gedra het.

Nadat die Springbok-skrumskakel Ruan Pienaar onlangs beseer is en nie beskikbaar sal wees vir ‘n paar weke nie, is Cobus se kanse so te sê honderd persent om sy eerste tree in die Groen-en-Goud te gee wanneer die Springbokke die Wallabies Saterdag op Nuweland in ‘n rugbykampioenskapwedstryd pak. Pienaar is (soos Cobus en Jaco) ‘n oud-Grey én saam met pa Gysie een van die nege pa’s en seuns wat reeds vir die Springbokke gespeel het.

Dit was teen druktyd nog nie bekend of die Bokke se afrigter, Heyneke Meyer, vir Reinach in sy beginspan vir Saterdag se kragmeting gaan insluit nie en of hy op die plaasvervangerbank gaan wag op sy groot kans nie.

Die 24-jarige Cobus se rugbyloopbaan op hoërskool het nié soos sy pa se loopbaan met ‘n groot gejuig begin nie. Cobus het eers gedurende sy matriekjaar gereeld vir Grey se eerstespan diens gedoen terwyl Jaco reeds as onder 16-speler opgeroep is om vir die Vrystaat as vleuel aan te tree by die Cravenweek-toernooi. Hy het boonop twee jaar agtereenvolgens vir die Suid-Afrikaanse skolespan gespeel.

Jaco het sy toetsdebuut in 1986 op regtervleuel gemaak teen die Nieu-Seelandse Kavaliers en in al vier toetse gespeel. Die Bokke het dié reeks 3 – 1 gewen en Jaco was die enigste Sprinbokspeler wat twee drieë in die reeks kon druk.

Die eerste keer dat Jaco die Groen-en-Goud oor die kop getrek het was vir atletiek. Hy het in die sport-isolasiejare groot naam gemaak toe hy op 15 April 1983 voor sy tuisskare in Bloemfontein die Suid-Afrikaanse rekord in die 400m met ‘n tyd van 45,01 agter sy naam geskryf het. Dié rekord het 15 jaar op die Suid-Afrikaanse rekordboeke gepryk.

Wat pa en seuns wat Sprinbokkleure in rugby verdien het betref, buiten Gysie (heelagter) en Ruan Pienaar (skrumskakel) wat hulle buiging in onderskeidelik 1980 en 2006 gemaak het, is daar nóg agt pa’s en seuns wat dit vermag het. Die mees onlangse is Flippie (1981, stut) en Flip van der Merwe (2010, slot).

Die eerstes was Alf (slot en flank) en Harry Walker (stut) wat onderskeidelik in 1921 en 1953 die eerste keer hulle buiging vir die Bokke gemaak het. Hulle is gevolg deur (debuut-toetsjaar is in hakies) Mauritz (slot, 1937) en Derek van der Berg (stut, 1975), Felix (slot, 1949) en Morné du Plessis (agtsteman, 1971), Louis (flank, 1958) en Uli Schmidt (haker, 1986), Moaner (slot, 1974) en Wikus van Heerden (slot, 2003), Schalk sr. (1984) en Schalk jr. Burger (flank, 2003) en Hennie (slot, 1981) en Andries Bekker (slot, 2010).

Felix en Morné du Plessis is die enigste pa en seun wat albei diens gedoen het as kaptein van die Springbokke.