Clover/Hoërskool Fichardtpark-sportdag op pad

0
6108
Meer as 4000 sportmanne en -meisies sal die naweek aan die Clover/Hoërskool Fichardtpark-sportdag deelneem.

Die jaarlikse Clover/Hoërskool Fichardtpark-sportdag vind eerskomende naweek in die Rosestad plaas. Vanjaar is die 16de keer wat dié byeenkoms aangebied word.
Meer as 4000 sportmanne en -meisies van 42 skole sal op die dag deelneem. Daar sal 96 rugbyspanne aan 48 wedstryde, 45 hokkiespanne (meisies) aan 30 wedstryde, 17 hokkiespanne (seuns) aan 12 wedstryde, 84 netbalspanne aan 101 wedstryde deelneem terwyl 64 tennisspanne, 26 skaakspanne, 7 gholfspanne en 8 skietspanne hul staal sal wys.
Die skiet, gholf, skaak en tennis is aktiwiteite wat reeds op Vrydag 3 Maart 2017 plaasvind en die res van die aktiwiteite op Saterdag 4 Maart 2017.
Die meeste van die sportaktiwiteite vind op die sportterrein van die Hoërskool Fichardtpark plaas, maar daar word wel ook gebruik gemaak van omliggende skole se velde.
Skole wat gaan deelneem is van Bloemfontein en omgewing, die Oos-Kaap, Noord-Kaap, Noord-Vrystaat en Noordwes Provinsie.
Heerlike verversings is heeldag beskikbaar. ‘n Groot groep van Hoërskool Fichardtpark se ouers, leerders en personeel sal gereed staan met iets heerliks te ete en te drinke.
Hoërskool Fichardtpark het ‘n trotse verbintenis met borge wat hulle ondersteun op dié dag. Almal is welkom om skolesport van uitstekende gehalte te kom aanskou. Skole gebruik ook hierdie geleentheid om hul spanne te finaliseer vir die seisoen wat voorlê.
Die sportnaweek sal voorafgegaan word deur ‘n musiekkompetisie op Dinsdag en Woensdag. Musiekleerders van die omliggende omgewing neem deel in verskillende afdelings.