Claerhout-erfenis leef voort

0
908

Mariné Jacobs

Vader Frans Claerhout sal altyd onthou word as een van die legendes van die Suid-Afrikaanse kunswêreld. Daar is egter twee mans wat sy liefde vir kuns steeds laat lewe deur hul eie kunswerke. John Selesho (57) en Whyttey Khabele (36) is albei van hul kinderdae af deur Claerhout opgelei en vandag trap hulle diep spore in die kunste.  “Ek het grootgeword in Thaba Nchu en was altyd besig om draadkarre te maak,” vertel Selesho. “Ek het nie geweet ek wil eendag ’n kunstenaar wees nie, maar ek het daarvan gehou om met my hande te werk.” Dit is hier waar hy vir Claerhout ontmoet het toe hy die dorpie besoek het om sendingswerk vir die Rooms Katolieke Kerk te doen. Hy is net daar saam met Claerhout terug Tweespruit toe, waar Claerhout hom opgelei het om met pastelle, olie, akriel en klei te werk.

Dit was nie lank voor Selesho vir homself begin naam maak het nie. In 1999 wen hy die Macufe Kunstefees-toekenning vir sy kunswerk Moeder met drie kinders, en in 2005 die tweede prys by dieselfde fees. Een van Selesho se steenbeelde pryk ook tans by die Oliewenhuis-kunsmuseum in
Bloemfontein.

Khabele se storie is nét so inspirerend soos Selesho s’n. Hy was net 11 jaar oud toe hy by Claerhout begin klas neem het. “Ons was vriende tot die dag van sy dood,” vertel Khabele. “Hy was ’n goeie man, het nooit kwaad geword nie. Hy het net altyd vir ons  kunsmateriaal gegee om mee te werk sonder om ooit iets terug te verwag. Hy was ’n wonderlike mens.” Vandag verkoop Khabele sy kunswerke regoor die land. Een kunswerk is selfs deur ’n Amerikaner gekoop wat deur Suid-Afrika getoer het.
Beide Selesho en Khabele se kunswerke is by die kunsgallery in Ladybrand te koop.

Ina Mentz, eienaar van die gallery, vertel hul kunswerke is baie gewild en dat hul gereeld spesifieke kunswerke in opdrag van kunsliefhebbers moet skilder.  So wat lê vir die twee besondere kunstenaars voor? “My grootste droom is om my eie solo-uitstalling te hê. Dan sal ek gelukkig wees,” glimlag Khabele. Selesho knik sy kop instemmend. “As ons name bekend kan wees en mense weet wie ons is en hoe ons kunswerke lyk – dis al wat ’n mens voor kan vra.”
Die kunstenaars kan gekontak word by 071-934-0645 (Whyttey Khabele) en 078-554-8329 (John Selesho).