Cinderella ondersteun #supportlocal

0
576
Van die karakters wat deel vorm van CInderella is agter: Monica Nortje - The Queen, Cézanne Yzelle - Bellatrix the Bad Fairy Godmother, Myburgh Linde - The King en Dr. Christine Steyn-Stevens - Gwyneth the Good Fairy Godmother. Voor: Charlene Taljaard - Pinocchio (wat in die verkeerde sprokie beland het) en Lise-Mari Otto - Cinderella. FOTO: JUAN PINNICK

Twee keer ‘n jaar kan Bloemfonteiners uitsien na ‘n produksie aangebied deur Xander Art Productions en komende naweek kan die Rosestad gereeed maak vir die bekende sprokiesverhaal, Cinderella.
“Ek het hierdie keer besluit op Cinderella, juis oor al die magic wat in die verhaal gebeur. Almal ken die verhaal van Aspoestertjie, maar hulle ken nie Xander Art Productions se weergawe daarvan nie. As mense in die toekoms ‘n plakkaat sien wat sê ‘Xander Steyn’s …’ hoop ek regtig hulle sal altyd wil kom en dit vir niks wil misloop nie!” het Xander Steyn, meesterbrein agter die produksie, gesê.
Sy doel met die teaterstukke wat hy opvoer, is om bekende sprokiesverhale te neem en ‘n plaaslike geur daaraan te gee. Hy skryf alles self oor en bring nuwe karakters in. “In my Cinderella is daar twee goeie feë (fairy godmothers), Gwyneth the Good en Bellatrix the Bad. Ek probeer regtig teater toeganklik maak vir almal. Daar is politieke grappe wat net die boere-ooms sal verstaan, hier en daar ‘n woordspeling wat net die ouers sal verstaan, en die kinders gaan mal wees oor al die verskillende karakters, veral die muise.”
Wat karakters aanbetref, is almal plaaslike kunstenaars. Sy eie hutsteken is immers #supportlocal.
Hy wil graag hê dat mense weer ‘n teater-ondersteuningsgedrag sal ontwikkel soos in die ou dae. Die produksie vind komende Saterdag om 20:00 by die Sand du Plessis-teater plaas. Kaartjies is beskikbaar by Pacofs teen R100 per persoon of by die deur.
Sy laerskool-studente tree ook om 09:00, 11:00 en 13:00 op en die hoërskoolgroep tree om 16:00 op. Kaartjies kos R70 per persoon.
As jy in die toekoms deel wil word van Xander Art Productins, kontak Steyn gerus by info@xanderartproductions.co.za. – Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za