Christen-skool slaan vure dood oor gay-storm

0
1013

LANI FOUCHÉ

Die Creare-opleidingsentrum in Bloemfontein het vandeesweek vure doodgeslaan nadat hy onder wye kritiek deurgeloop het oor sy beleid oor homoseksualiteit. Die Sunday Times het die afgelope naweek berig dat dié Christelike sentrum, in hul prospektus noem dat hulle homoseksuele mense kan “help” om hul seksuele oriëntasie te verander, en dat dit ‘n vereiste vir gay mense is wat ‘n voltydse student by Creare wil word om heteroseksueel te word.

Pastoor Cornelis van Heyningen van Creare het in ‘n gesprek met Courant gesê hulle kan geen mens veroordeel of verdoem nie, omdat dit teen God se wet is. Maar hulle glo wel dat homoseksualiteit ‘n sonde is. “Dit is ons interpretasie van die Bybel, en ons veroordeel niemand anders wat ‘n ander siening as ons daaroor het nie.” Van Heyningen sê die media het hul siening egter uit konteks geruk.

Daar is ‘n vak genaamd “Human Sexuality” wat Creare aanbied waarin kwessies soos homoseksualiteit behandel word. Vir die handjievol permanente studente wat by die opleidingsentrum in Bloemfontein woon en studeer, is dit verpligtend om van hul sondige gewoontes af te sien, insluitend homoseksualiteit. “Dit vorm deel van ons dissipelskap-program. As iemand rondslaap, sal dit van daardie persoon verwag word om dit te staak. Daar is nog baie dinge in my eie lewe wat ek ook moet verander om in God se pad te wandel,” sê Van Heyningen. Hy voeg by dat Creare niemand se menseregte wil skend nie.

Maar vir die meer as 5 000 deeltydse studente landswyd wat Creare se vakke en programme volg, word daar geen vereistes gestel om hulself te verander nie. “Ons vereis van geen van die deeltydse studente om hul seksuele oriëntasie eers te verklaar nie. Selfs ateïste kan ons programme volg. Maar as hulle kies om hulleself te verryk of hul seksuele oriëntasie te verander, het ons ‘n fasiliteringsprogram daarvoor.”

Daar is talle seksuele “suksesverhale” by Creare. Dit word aangebied deur ‘n man, Sy Rodgers, wat vir agtien maande lank as ‘n vrou geleef het, en ‘n intense belewenis met God gehad het. Vandag is hy gelukkig (met ‘n vrou) getroud en het kinders en bedien duisende mense oor die wêreld wat hul homoseksuele oriëntasie wil verander.

Lede van gay-gemeenskappe voel egter in die gesig gevat oor Creare se beleid. Eugene Brockman, stigter van die Gay Flag SA-organisasie, meen dié beleid is diskriminerend teenoor lede van die gay of lesbeër-gemeenskappe,. “Om vir iemand te sê dit is verkeerd om te wees hoe hulle in hul siel en wese is, kan erge skade aan ‘n persoon aandoen. Dis nie ‘n keuse nie – ‘n persoon word so gebore.” Hy sê om gay te wees, is presies soos om heteroseksueel te wees – dis ‘n normale manier van wees. “Dit is vir my verskriklik hartseer dat so baie kerke besluit om so teen gay en lesbeër-mense op te tree.” Hy moedig homoseksuele mense aan om by kerke aan te sluit wat ‘n aanvaardende houding teenoor gays het.

Van Heyningen sê egter mense wat nie homoseksueel "gebore" is nie en voel dat hulle wil verander, by Creare gefasiliteer kan word om heteroseksueel.