CHOC bied ondersteuning aan talle

0
CHOC bied ondersteuning aan talle

MARICELLE BOTHA & ALZANE NARRAIN

Kankerbehandeling oor ’n lang tydperk is vir kinderlyers asook hul ouers uiters vermoeiend. Hoe verduidelik jy aan ’n kind wat besig is om met sy of haar liggaam te gebeur?  CHOC-huis is in 1979 gestig deur ’n groep ouers in Johannesburg wie se kinders self kanker gehad het. Hulle het die behoefte aan ’n ondersteuningsnetwerk wat jou situasie verstaan, identifiseer en so dié organisasie op die been gebring. Vandag is daar landwyd CHOC-huise wat ondersteuning bied aan gesinne in nood.

Hoewel dit nie altyd maklik is om elke dag met siek kinders te werk nie, sê Nicolene van den Heever, streeksbestuurder van CHOC-huis in sentraal Suid-Afrika, dat die beloning van ’n gesonde kind iets is wat hulle werk beslis die moeite werd maak.
“Net gister het hier ’n mamma van ’n dogtertjie wat by CHOC- huis gebly het, kom kuier. Die dogtertjie is een van ons survivors. Die lekker daarvan is om terugvoer te kry oor hoe goed dit met haar gaan. Sy was so klein en haar ma vertel dat sy deesdae ’n regte klein babbelbekkie is. Dit is vir my amazing om te sien hoe blom sy nou en dit is ons doel hier. Om vir daardie kindertjies ’n toekoms te gee, hulle is mos ons toekoms,hoekom nie vir hulle ’n gesonde toekoms bied nie? Selfs met die jaarlikse opvolg besoeke sien ons hoe kinders ouer en gesonder word,” vertel sy met deernis.

CHOC-huis poog om ’n tydelike huis vir ouers, versorgers en selfs kinders wat behandeling ontvang, te wees. Hier kan hulle ’n bietjie rustig raak en saam met ander gesinne wat soortgelyke probleme in die gesig staar, tyd spandeer. CHOC is ook daagliks betrokke by die pediatriese onkologie-eenheid van Universitas-hospitaal. Statistiek toon dat minder as die helfte van kinders met kanker in Suid-Afrika gediagnoseer word en baie van hulle reeds in die gevorderde stadium van die siekte is. Dit is om hierdie rede dat CHOC vanjaar fokus op die bewusmaking van sekere simptome waarvoor ouers moet uitkyk.

Volgens Van den Heever moet ouers hul kinders na die dokter neem sodra die eerste simptome waargeneem word. Sy sê in Suid-Afrika is die probleem dat honderde kinders wat kanker het, nooit gediagnoseer of té laat gediagnoseer word.
Elke jaar in November hou CHOC-huis ’n herdenkingsdag om geestelik afskeid te neem van die kinders wat die stryd teen kanker verloor het. Van den Heever meen dit is belangrik vir die personeel om op so ’n manier van die kinders wat hulle lewe raak, afskeid te neem.

No posts to display