Cheetahs vra meer tuiswedstryde

0
911
Die Cheetahs vleuel Dan Kasende tydens Saterdag se kragmeting teen Toulon by Stade Mayol in Frankryk. Die legendarise Italiaanse agtsteman en Toulon kaptein, Segio Parisse, probeer die bal afstorm. FOTO: EPCR

Die Toyota Cheetahs pleit weer eens om meer rugby in internasionale kompetisies te speel nadat hul puik lopie in die Europese Uitdaagbeker Saterdag tot ‘n einde gekom het.

Ondanks ‘n dapper stryd in die tweede helfte by Stade Mayol in Frankryk, het die Franse reuse, Toulon, die Cheetahs met 36-21 geklop nadat die Cheetahs rustyd 19-0 agter was.

Dit was die Cheetahs se vyfde wedstryd in die toernooi, maar dit was hul vyfde wegwedstryd aangesien geen van hul wedstryde in Bloemfontein gespeel is nie. Dit was ‘n voorwaarde vir die Cheetahs se deelname aan die kompetisie.

Terwyl die Cheetahs dit wel aanvaar het om bietjie speelkans te geniet, was dit onregverdig teenoor die span. Dit bewys weer eens dat hulle meer as net ‘n Curriebeker-span is.

As ‘n mens kyk na die Leeus – wat ook in die toernooi gespeel het – het hulle hul wedstryde tuis en weg gespeel. Saterdag het hulle daarin geslaag om na die kwarteindrondte deur te dring ná ‘n tuisoorwinning teen Racing 92 op Ellispark.

In elk van die vyf wedstryde het die Cheetahs ook daarin geslaag om meer punte as hul opponente in die tweede helfte aan te teken.

Die Cheetahs-afrigter, Hawies Fourie, het aan Bloemfontein Courant gesê hy is geweldig trots op die manier waarop sy span gespeel het. Hy het bygevoeg dat slegs deur meer gereeld in internasionale kompetisies te speel, hulle beslis sal verbeter deur hulself teen kwaliteit teenstanders te toets.

“Ek sou graag wou hê ons moet hierdie tipe wedstryde ook in Bloemfontein speel en meer gereeld gedurende die seisoen op ‘n hoë vlak speel,” sê Fourie.

“Dit sal net die hele span en al die spelers help om hul wedstryde op te hef om gewoond te raak aan hierdie intensiteit en spoed van die wedstryd.

“Ek is trots op ons vertoning, maar ons sal nou moet teruggaan en op die Curriebeker fokus.”

Sondag om 15:00 is die Leeus gasheer vir die Cheetahs op Ellispark in die vyfde rondte van die Curriebeker. – MORGAN PIEK