Cheetahs veg teen relegasie

0
354

GEORG VAN ECK

Die besering van Coenie Oosthuizen is ’n terugslag wat verreikende gevolge kan inhou vir die Toyota-Vrystaat-Cheetahs Vrydag in sy relegasie/promosie-wedstryd teen die Oostelike Provinsie Kings in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein kan inhou.
Die Vrystaat-Cheetahs is reeds uitgedun weens beserings en is met hul rug teen die muur. Sonder ’n sterk vaskopstut gaan daar problem in die vaste skrums wees. Gelukkig beskik die Vrystaters oor ’n skrumdokter van die gehalte van Os du Randt wat hierdie week vinnig ’n oplossing sal moet vind as Oosthuizen nie kan speel nie.
Ross Geldenhuys sal waarskynlik gekies word as Oosthuizen nie reg is nie. Hy het teen die WP aanvanklik gesukkel om Steven Kitshoff in toom te hou en hieraan sal Du Randt moet skaaf.
Skrumwerk is nie die enigste probleem nie. OP maak van sterk dryfmaal-bewegings, harde skoonmaak by die losgemale en vurige inklimspel gebruik om hul teenstanders mak te kry.
Geldenhuys sal saam met sy kaptein, Adriaan Strauss, Marcel van der Merwe, Francois Uys en Izak van der Westhuizen die aanslag van die OP met die klipharde Darron Nell aan die voorpunt moet stuit. Daar sal gelak, gedryf en ingeklim moet word om vuur met vuur voor te beveg.
OP het ook ’n gevaarlike agterlyn waarin die oud-Vrystaters, Falie Oelschig, George Whitehead en Wayne Stevens, sleutelrolle vertolk. Die stryd agter op die aanval en verdediging gaan dus byna Vrystaat-proewe in die kleine wees.
Die Vrystaters sal elke kans om punte aan te teken teen die OP moet gebruik en hul tuisveld voordeel deeglik moet benut voordat die tweede promosie/relegasie-wedstryd aanstaande week in die Baai plaasvind. Teen die WP het die Vrystataters in die tweede helfte gaan tent opslaan in die Streeptruie se 22-metergebied en die bal deur 16 fases geneem sonder om te gaan druk. ’n Strafskop is aan die Vrystaters toegeken en hulle het daarna die bal deur nege fases geneem sonder om met ’n drie af te rond.
Teen die OP sal dit reggestel moet word. Raymond Rhule, Nico Scheepers, Sarel Pretorius en Hennie Daniller sal op innoverende wyse gebruik moet word om bresse te slaan en drieë te druk.
’n Klinkende sege in Bloemfontein is noodsaaklik om een van die top-agt spanne in Suid-Afrikaanse rugby te bly.
Punte: WP 36 (22). Drieë: Deon Fourie (2), Jean de Villiers, Andries Bekker, Duane Vermeulen. Doelskoppe: Demetri Catrakilis (4). Strafdoel: Catrakilis. Toyota-Vrystaat-Cheetahs 15 (3). Drieë: Francois Uys, Phillip Snyman. Doelskop: Sias Ebersohn. Strafdoel: Nico Scheepers.
Ander uitslae: Blou Bulle 50, Goue Leeus 29; KZN-Haaie 42, Griekwas 3.
Die finale puntestand: KZN-Haaie 35, Goue Leeus 28, WP 25, Blou Bulle 23, Griekwas 20, Vrystaat-Cheetahs 18.