Cheetahs sweet oor Steyn

0
160
Frans Steyn en Ruan Pienaar FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs sweet oor die beskibaarheid van die Springboksenter, Frans Steyn, voor Saterdag se SuperRugby Unlocked-stryd teen die Stormers in Kaapstad. Hy sal tot die laaste ‘n geleentheid gegun word om sy fiksheid te bewys.

Die tweemalige Wêreldbeker-wenner was ‘n laat onttrekking voor die wedstryd verlede week teen die Sharks in Durban weens ‘n liesbesering.

Die Cheetahs-afrigter, Hawies Fourie, het aan Bloemfontein Courant gesê dat dit in hierdie stadium nog te vroeg is om ‘n besluit te neem. “Dit was ‘n groot verlies om Frans so laat in die week te verloor, maar ons wag op sy reaksie op die behandeling wat hy tans kry. Hy sal tot Woensdag behandeling kry en ons sal waarskynlik Donderdag ‘n besluit maak voor die oggend oefensessie.

“Ons sal dus eers Donderdagoggend weet of hy die naweek vir ons sal kan speel.”

Die Cheetahs-hulpafrigter, Charl Strydom, het op sy beurt gesê dat hulle Steyn beslis gemis het tydens die nederlaag van 19-13 teen die Sharks in Durban, maar lê klem daarop dat dit nie die rede was waarom hulle vasgeval het nie.

“Die afgelope naweek het ons Frans beslis gemis. Hy het Donderdag in die oefening die besering opgedoen, en ons het sy besluitneming gemis, veral toe ons die geelkaart gekry het.

“Hy bring ‘n kalmte na die agterlyn, net soos Ruan (Pienaar) toe hy by ons aangesluit het. Hulle was al soveel keer in sulke situasies en hulle weet hoe om kalmte vir die res van die span te bring. Dit is nie waarom ons die wedstryd verloor het nie. Ons het slegs 35% besit in die wedstryd geniet, en dit was meestal weens swak dissipline. Ons het sestien strafskoppe afgestaan, wat nogal baie is.”

Saterdag se wedstryd tussen die Stormers en die Cheetahs begin om 19:00 op Nuweland in Kaapstad. – MORGAN PIEK