GEORG VAN ECK
Die Toyota Cheetahs was weer die Wit Tornado van ouds. Om die waarheid te sê, het die Vrystaat Cheetahs 16 jaar gelede laas daarin geslaag om die Highlanders in Invercargill, Nieu-Seeland af te ransel. Volpunte nie net vir Adriaan Strauss en sy troepe nie, maar ook vir die bestuurspan wat die foute teen die Chiefs reggestel het en veral die verdediging uitmuntend opgeskerp het.
Nou wag die Waratahs Vrydag om 10:40 in Sydney en daarna die Force in Perth. Soos die Toyota Cheetahs nou speel, kan hulle op die oos- en weskus van Australië ook seëvier.
Die Waratahs hou geen vrees vir die Toyota Cheetahs in nie, want hulle het verlede jaar in Sydney gewen en die oud-Bokbreier, Jake White, se Brumbies het aan die Cheetahs gewys hoe die Waratahs getem kan word. Aan die voorpunt van die Toyota Cheetahs se aanslag was die skrumskakel, Sarel Pretorius. Hy was weer Super-Sarel en het met sy vlymskerp breekslae, vaart en slim skoppies vergoed vir sy swak vertoning teen die Chiefs. Die skrumskakel het die vertroue wat die afrigters in hom getoon het, gestand gedoen. Langs hom het Johan Goosen weer in rat gekom en was in die kol met al agt sy skoppe vir ’n bydrae van 21 punte.
Die Toyota Cheetahs se afrigters moet lof kry vir die wyse waarop jong Lodie de Jager en Francois Uys saam met die losvoorspelers hul Nieu-Seelandse teenstanders in twee wedstryde in die lynstane getroef het. Saam met stewige skrumwerk was dit die grondslag vir die sege teen die Highlanders. Die lostrio met ’n voortreflike Lappies Labuschagne aan die voorpunt, goed ondersteun deur Frans Viljoen en Philip van der Walt, het sake in die los en gebroke spel oorheers. Later het die Bok-baljagter, Heinrich Brüssow, verder stukrag aan die span gegee. Ook die ander plaasvervangers en veral Coenie Oosthuizen en Rayno Benjamin het die span op die wenpad gehou.
Dit was egter die wyse waarop die Toyota Cheetahs ver meer as ’n 100 duikslae uitgeoefen het – sommige plettervatte – wat die Highlanders laat steier het en gewys het dat die span oor die durf, trots en vermoëns beskik om nog seges te behaal.
Punte: Toyota Cheetahs 36 (30). Drieë: Sarel Pretorius. Doelskoppe: Johan Goosen (3). Strafdoele: Goosen (5). Highlanders 19 (7). Drieë: Kade Poki (3). Doelskoppe: Lima Sopoaga en Colin Slade.
Ander uitslae: Bulls 28 Blues 21; Sharks 21 Kings 12; Brumbies 35 Warathas 19; Reds 23 Rebels 12; Stormers 36 Chiefs 34.