Cheetahs soek ‘n opvolger vir Franco

0
342
Dit is bevesting dat die Toyota Cheetahs se afrigter, Franco Smith, die span nog vir die Curriebeker sal slyp. Smith sal op 1 Januarie 2020 sy kontrak begin as hoofafrigter van die Italiaanse nasionale rugbyspan. PHOTO: JAMES CROMBIE/INPHO

Dit is ‘n uitgemaakte saak dat die Toyota-Cheetahs hul derde Guinness Pro14-veldtog in September vanjaar sal afskop met ‘n derde afrigter in drie jaar.

Die Cheetahs het Dinsdag bevestig dat hul pad en die van die huidige hoofafrigter, Franco Smith, gaan skei. Smith is op pad na Italië om die leisels van dié land se nasionale rugby oor te neem by Conor O’Shea.

Smith sal egter nog die Vrystaat-Cheetahs slyp vir die Curriebeker later vanjaar en sal by die franchise aanbly as direkteur van rugby tot einde November voordat hy op 1 Januarie 2020 begin by die Azzurri.

Die Cheetahs het Dinsdag bevestig dat hulle die pos vir Smith se opvolger dié week begin adverteer het, en dat die nuwe man aan die stuur reeds voor die einde van Junie aangestel sal word. Die rede hiervoor is dat hy deel kan vorm van die Cheetahs se bestuurspan in die Curriebeker en sodoende te verseker dat die oorgang seepglad verloop.

Die Uitvoerende Hoof van die Cheetahs, Harold Verster, het aan Bloemfontein Courant gesê dat dit uiters belangrik is om iemand aan te stel wat die nodige vaardighede het en ook ‘n sterk leier is.

“Die nuwe afrigter sal die leier van die hele groep moet wees, die span, die hulpafrigters, ens. Dit gesê, sal hy ook hoogs ervare moet wees en kennis dra van alle aktiwiteite soos onder meer die slypwerk aan die voorspelers, die agterlyn en die hanteerwerk.

“Ons sal na al dié goed kyk, en natuurlik ook sy sukses as afrigter. Die belangrikste aspek bly egter dat hy ‘n goeie leier sal moet wees.”

‘n Paneel van vyf lede sal deur die Cheetahs aangestel word vir die taak om ‘n afrigter te werf. Die topdrie tot -vyf kandidate sal vir onderhoude genooi word. Die voorste twee of drie kandidate sal ook ‘n voorlegging moet doen.

Die name van Deon Davids, Hawies Fourie en Matthew Proudfoot is al genoem as sterk aanspraakmakers, maar Verster sê dit is niks meer as spekulasie nie. Courant kan wel bevestig dat die voormalige Luiperds en NWU Pukke-breier, Jonathan Mokouena, reeds aansoek vir die pos gedoen het, en daar word geglo dat die huidige Poemas-afrigter, Jimmy Stonehouse, ook sy naam in die hoed gegooi het. – MORGAN PIEK