Die regte ingesteldheid gaan van die uiterste belang wees wanneer die Toyota Vrystaat-Cheetahs Saterdag teen die die Goue Leeus te staan kom in die eindstryd van die die 2019-Curriebeker-reeks.
Die Cheetahs sal vir die 15de keer in ‘n eindstryd speel en die visier van die span is op ‘n sesde titel.
Hoewel die span van die Rosestad as die gunstelinge beskou word, het die Leeus reeds in die kompetisie bewys dat hulle geensins ‘n span is wat onderskat kan word nie en het hulle reeds vanjaar die Cheetahs in Bloemfontein getroef.
Op 2 Augustus het die Cheetahs in ‘n stadium in die kragmeting teen die Leeus met 19-0 voorgeloop, maar het hulle met 24-22 vasgeval vir hulle eerste nederlaag in die reeks.
Twee weke later het die Cheetahs in Nelspruit teruggeveg om die Poemas met 43-37 te klop. Teen die WP moes die Blikore van 19-0 agter ook terugveg om die span van die Kaap met 38-33 te verslaan en so ook ‘n tuishalfeindstryd bespreek teen die Haaie.
In verlede naweek se halfeind was die Cheetahs weer eens baie stadig, maar ‘n uitstekende tweede helfte het hulle van ‘n tuiseindstryd verseker. Die Cheetahs het 40 punte teen die span van Durban in die tweede helfte aangeteken, om met 51-30 te seëvier.
Die senter, Dries Swanepoel, wat in die 2016 vir die Blou Bulle teen die Cheetahs gespeel het, is van mening dat hulle as span die wedstryd met die regte ingesteldheid moet benader.
“Ons moet eenvoudig hierdie wedstryd soos ‘n eindstryd benader en aanpak. Ons sal ons beste rugby moet speel, van die eerste tot die laaste minuut. Die klem was al vir die afgelope paar weke op hierdie wedstryd, so nou moet ons net die knoop deurhak.”
Teen druktyd was alle aanduidinge dat die stadion uitverkoop sal wees met 42 000 toeskouers wat die eindstryd sal bywoon. By verlede naweek se wedstryd teen die Haaie was daar nagenoeg 20 000 toeskouers en kommunikasie op die veld was ietwat van ‘n probleem.
Swanepoel glo dat hulle verlede naweek daardeur geleer het, maar stem saam dat kommunikasie bitter belangrik sal wees.
“Die feit dat daar laas naweek ‘n klomp mense by die wedstryd was, het gemaak dat ons ‘n bietjie gesukkel het om mekaar op die veld te hoor. Daar is egter heelwat ouens in die span wat daaraan gewoond is om voor so ‘n klomp mense te speel, so dit help. Dit sal ‘n uitdaging wees, maar so baie mense bring weer baie energie. Die sal daartoe lei dat ander emosies en adrenalien inskop, so ek dink dit gaan baie lekker wees.”
Die groot eindstryd skop Saterdag om 17:00 af in die Toyota-stadion. – MORGAN PIEK