Cheetahs slaggereed om na Australië te toer

0
454
Abner van Reenen tydens die tweede Toyota-uitdaagreekskragmeting tussen die Cheetahs en Western Force in Bloemfontein. FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs het hul groep aangekondig wat in Australië gaan toer vir die twee Toyota-uitdaagreekswedstryde teen die Western Force in Perth.

Daar is ‘n handvol spelers in die toergroep wat nie vroeër vandeesmaand in die tuiswedstryde gespeel het nie en hulle sluit in Reinhardt Fortuin, Daniel Kasende en Laurence Victor, asook die nuut-gekontrakteerde stut, Justin Forwood.
Al vier het van ‘n besering herstel en is fiks en beskikbaar, terwyl ‘n handjievol spelers ook die toer sal misloop.

Die skrumskakel, Ruben de Haas, is vir ‘n lang tydperk uit weens ‘n kruisligament-besering, terwyl die Springbok Oupa Mohoje beslis die ongelukkigste speler is om nie op toer te gaan nie, as ‘n mens sy uitstaande spel in die tweede wedstryd in ag neem.
Ander spelers wat weens ‘n besering nie oorweeg is nie, is Evardi Boshoff en Mzwanele Zito.

Die haker Chucky van der Westhuizen en die vaskopstut, Aranos Coetzee, is albei ook nie beskikbaar nie omdat hulle vir Namibië by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk speel.

Die Cheetahs het die Force in die eerste wedstryd in Bloemfontein met 31-27 geklop, terwyl hulle in die tweede wedstryd met 27-12 gewen het nadat hulle ná 13 minute van 12-0 af moes terugveg. Daar word egter verwag dat die Force baie sterker in Perth sal wees met sommige eerstekeuse-spelers wat weer in aksie sal wees.

Die Cheetahs-hulpafrigter, Charl Strydom, het aan Bloemfontein gesê dit was belangrik om al die fikse spelers in die span speeltyd te gee tydens die twee wedstryde in Bloemfontein.

“Ons wou almal speeltyd in die twee wedstryde hier gee, en dit is wat ons gedoen het.

“Ons gaan daar waarskynlik ons sterkste kant kies met die Europese Uitdaagbeker in gedagte, so ons wil net daardie ouens soveel speeltyd as moontlik gee.”

Die eerste wedstryd in Perth word volgende week Vrydag by die Lane Group-stadion in Mandura gespeel met afskop om 13:00.

Cheetahs-toergroep – Rynier Bernardo, David Brits, Robert Ebersohn, Schalk Ferreira, Reinhardt Fortuin, Justin Forwood, Marko Janse van Rensburg, Cohen Jasper, Daniel Kasende, Rewan Kruger, George Lourens, Daniel Maartens, Tapiwa Mafura, Friedle Olivier, Raegan Oranje, Ruan Pienaar, Sibabalo Qoma, Jeandré Rudolph, Victor Sekekete (kaptein), Alulutho Tshakweni, Gideon van der Merwe, Marnus van der Merwe, Abner van Reenen, Hencus van Wyk, Janus Venter, Laurence Victor en Carl Wegner. – MORGAN PIEK