Cheetahs rol moue op vir Bloem

0
393
Cheetahs besig om rommel wat binne en buite die stadion ophoop, op te tel

Die Toyota Cheetahs is besig om (vuil) hande te vat vir die #Cheetahs4Change-projek waar die spelers saam met die bestuur en belanghebbendes die stad skoonmaak.

Hoofafrigter van die span, Hawies Fourie en sy bestuurspan, het met dié inisiatief vorendag gekom en wil inwoners uitdaag om te help. Volgens Media- en kommunikasiebestuurder, Ronel Pienaar, is die plan om instansies, organisasies, skole of strukture in Bloemfontein uit te daag of te nader om saam met die Toyota Cheetahs te help skoonmaak, “sodat ons almal weer trots kan wees op die Stad van Rose”.

“As elkeen net in sy eie omgewing begin om skoon te maak sal ons vinnig saam ‘n verskil kan maak. As Toyota Cheetahs vee ons eers voor ons eie deur en ons maak die klein goedjies reg. Ons het verlede Woensdag begin deur alle rommel en botteltjies en papiere en enige iets wat rondlê in en om die stadion op te tel. Daarná het ons Att Horaklaan en Zola Buddweg getakel,” sê Pienaar.

Sy vertel aan Bloemfontein Courant dat die organisasie beplan om ‘n soortgelyke aksie in Heidedal te loods. Besoek gerus hul Facebook-blad, Cheetahs Rugby, vir meer besonderhede.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za