GEORG VAN ECK
Daar het Saterdag byna ’n hoorbare sug van verligting in Bloemfontein en die Vrystaat opgeklink. Nie net vir die uiters welkome reën nie, maar ook die wyse waarop die Toyota Cheetahs in die Vrystaat-stadion die eerste keer in Superrugby met die gedugte Bulle afgereken het.
Die moeilike nat speeltoestande moes die Bulle soos ’n handskoen gepas het, maar hulle het hulle teen ’n vasberade trop Cheetahs vasgeloop, wat takties baie slimmer gespeel het en die besoekers pimpel en pers geduik het.
Die Cheetahs van Adriaan Strauss het gewys hulle is reg vir hul oorsese veldtog in Australasië, wat Saterdagoggend om 10:40 teen die Rebels in Melbourne begin.
Die sege van 15-9 oor die Bulle is met ’n spanpoging soos min deur die Cheetahs vermag. Van die loskopstut, Caylib Oosthuizen, tot die heelagter, Willie Roux, wat onder die hoë hangskoppe uitgeblink het, het ’n bydrae tot die sege gelewer.
Op losskakel het Johan Goosen die seepgladde diens van Shaun Venter gebruik en weer soos ’n generaal dikteer en in tandem met Le Roux gespeel om die Bulle met slim skopwerk in hul eie gebied vas te pen.
Dit alleen sou nie genoeg gewees het nie. Die agttal het hul man in alle afdelings gestaan en die drie losvoorspelers, Philip van der Walt, Boom Prinsloo en Lappies Labuschagné, het die oorhand in die vastelos gehad.
Die drie Cheetah-slotte, Lood de Jager, Francois Uys en Ligtoring Landman, het nie ’n duim teruggestaan vir die Bok-slotte van die Bulle, Flip van der Merwee en later Victor Matfield, nie. Daarby is die Bulle se dryfmaalbewegings van die lynstane af telkens deur die Cheetahs met kragtige inklimspel gestuit.
Anders as die Cheethas en hul ondersteuners moes die Bulle met hul seer lywe na vervloë dae verlang het. Die dae toe ’n Naas Botha of ’n Morné Steyn hulle met behulp van hul agttalle tot seges geskop het.
Helaas het Louis Fouché met sy skopwerk nie die mas opgekom nie en die agttal het nooit oorheers nie. Dit het iewat beter met die Bulle gegaan toe Handré Pollard as losskakel oorgeneem het.
Punte:
Toyota Cheetahs 15 (12). Straf: Johan Goosen (4). Skep: Goosen. Bulle 9 (6). Straf: Louis Fouché, Handré Pollard (2).
Ander Superrugby-uitslae:
Leeus 34 Stormers 10; Haaie 27 Hurricanes 9; Waratahs 43 Westen Force 21; Reds 27 Brumbies 17; Chriefs 18 Crusaders 10; Highlanders 29 Blues 21.
georg@centralmediagroup.co.za