Cheetahs pronk by Nampo Oesdag

0
3204

OWEN KOCK

So tussen die gesweet en harde werk deur, het die Toyota Cheetahs ‘n tydjie afgeknyp om vanjaar se GraanSA Nampo Oesdag buite Bothaville te besoek.
Dit was hul rusdag verlede Donderdag, maar Cheetah-ondersteuners het hulle voorgekeer en wou weet hoekom hulle nie oefen nie.
Die kookwater skrumskakel, Piet van Zyl, het sy vierde besoek aan wat een van die beste landbouskoue in die wêreld bestempel word, gebring. Vir Van Zyl, wat self boer, was dit beslis die moeite werd en het hy het Nampo met heelwat nuwe idees verlaat.
“Nog elke jaar as ek hiernatoe kom, is daar iets iets nuuts. Die tegnologie verander so vining en die boer moet eenvoudig bybly as hy nie wil agterbly nie,” het die blitsbuksie aan Bloemfontein Courant gesê.
“Dis veral vir my lekker om hier rond te loop en ouens soos Willie (Le Roux) en Raymond (Rhule) wat niks van boerdery weet nie, te wys en te vertel hoe van die goed werk,” het die jong saaiboer gesê.
Vir Rhule was dit sy eerste Nampo Oesdag en sy mond het oopgehang oor wat hy by van die uitsallers gesien het. Hy was egter gou om te sê dat hy die sakewêreld, in plaas van die plaas verkies as ’n lewe ná rugby.
“Dis vir my regtig ‘n ongelooflike plek (Nampo). Ek het nie geweet wat om te verwag toe ek hier aangekom het nie, maar wat ek gesien het, het ek van gehou en ek sal mense aanraai om beslis ’n draai by Nampo te kom maak.
“As jy groot wil wees in die boerdery bedryf, dan is Nampo ’n móét, want hier is alles wat die boer nodig het. Ek kan nie dink dat hier nié iets is wat die boer op die plaas kan gebruik nie.
“Hier is baie ander goed ook, maar as jy ‘n boer is, móét jy hier wees. Ek moet egter sê ek het my behoorlik aan die beeste vergaap, so ja, hier is iets vir almal,” het Springbok-vleuel gesê.
Die Cheetahs het Saterdagaand se kragmeting met die Reds in die Vrystaat Stadion in Bloemfontein 27-18 gewen