Cheetahs lus om weer te speel

0
1139
Ruan Pienaar FOTO: JAKO PIENAAR

Met sport wat wêreldwyd tot stilstand gekom het, is dit ongehoorde tye en daar is geen twyfel nie dat ons naweke nou heeltemal anders sal wees vir die voorsienbare toekoms. Dit bied egter ‘n gulde geleentheid om tyd met ons geliefdes deur te bring en om te fokus op die belangrike dinge in die lewe.

Daar is heel moontlik lig aan die einde van die tonnel, en indien dinge verloop soos dit moet oor die volgende 21 dae tydens die inperkingsperiode, kan daar aanstaande maand dalk weer sport wees.

SA Rugby het bevestig dat hulle die einde van April in hul visier het om plaaslike rugby weer van stapel te stuur. Al kry ons op 16 April die groen lig sal dit egter nog ‘n bietjie tyd neem vir spelers om weer gewoond te raak aan kontak, ens. So, dit sal moontlik daartoe lei dat die eerste week of twee van wedstryde nie die mees aanskoulike sport sal oplewer nie, maar dit is darem ‘n begin.

SA Rugby se planne is om ‘n plaaslike rugbykompetitise op die been te bring wat die PRO14- en Super Rugby-franchise sal insluit, asook die Griquas en Poemas, wat albei ook franchise-status geniet.

‘n Mens sal die toernooi as ‘n Super-Curriebeker kan beskou aangesien alle Springbokke wat plaaslike speel aan die kompetisie sal deelneem. Dit sal soos die destydse Curriebeker wees voordat Super Rugby begin het.

Die Toyota Cheetahs is veral opgewonde oor die idee om hulself te meet aan plaaslike spanne, aangesien hul enigste teenstander op franchise-vlak in Suid-Afrika die Southern Kings is.

‘n Groot gesprekspunt is ook watter een van die PRO14 en die Super Rugby die sterk toernooi is, en ‘n plaaslike toernooi behoort die antwoord te gee.

Breier van die Cheetahs, Hawies Fourie, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle lus is om hul staal te toon teen die Bulls, Lions, Sharks en Stormers.

“Ons spelers sal regtig die geleentheid geniet om teen die Super Rugby-spanne te speel hulself te meet aan dié spanne, asook om in Suid-Afrika te speel.

“In die laaste vyf maande tydens die PRO14 het ons slegs een tuiswedstryd gehad, so ons sien uit na wedstryde in Bloemfontein.

“In hierdie stadium weet ons nie wat al die planne is nie, en ons is nie seker of die wedstryde agter geslote deure gespeel sal word of nie, en of dit net of TV te siene sal wees nie.

“Solank ons later in die seisoen net weer rugby kan speel, maak dit nie te veel saak nie.” – MORGAN PIEK