Cheetahs laat Stormers swig

0
462

GEORG VAN ECK

“Wedstryde teen die ander Suid-Afrikaanse spanne in die Superrugby-reeks is altyd meer fisiek en veral moeiliker omdat ons mekaar se spel so goed ken.” Dit is die waarskuwing wat die Toyota Cheetahs se hoofafrigter, Naka Drotské, reeds voor die kragmeting teen die Stormers gerig het. Daarom is die vyfde sege op ’n streep vir sy span teen die Stormers (26-24) in die Vrystaat-stadion van selfs groter waarde as die vorige vier teen die spanne van Nieu-Seeland en Australië.

Die waarskuwing geld egter steeds vir eerskomende Saterdag se kragmeting met die Bulls in hul eie kraal, Loftus Versfeld, in Pretoria. Adriaan Strauss en sy trop sal op hul heel beste moet wees as hulle op die wenpad wil bly. Die Bulls is nooit maklike teenstanders nie en nadat Pierre Spies se span die afgelope naweek gerus het om hul toerwonde te lek én ook hul 75ste bestaansjaar Saterdag op Loftus vier, gaan dit ’n sterk vertoning verg om hulle te troef.

Die Toyota Cheetahs het die Stormers van hul eie medisyne ingegee deur hulle met mening te lak en terug te duik. Die feit dat die besoekers van die Kaap twee drieë gedruk het, is eerder toe te skryf aan ’n swak beslissing van die fluitjieblaser, Stuart Berry, met Juan de Jongh se tweede drie as swak verdediging. In die vorige vyf seges van die Toyota Cheetahs het die bestuurspan van die Toyota Cheetahs hul huiswerk gedoen en die Cheetahs se spel aangepas om swakhede van hul teenstanders uit te buit.
Die Bulls se swakheid in die skrums kan uitgebuit word, want Trevor Nyakane, Strauss, Lourens Adriaanse en Coenie Oosthuizen kán skrum.

Die is egter nie net huiswerk wat die Toyota Cheetahs laat wen nie. Die span se vurige spelers vul mekaar aan. Dit is moeilik om uitblinkers uit te sonder. Die vurige lostrio, Lappies Labuschagne, Heinrich Brussöw en Philip van der Walt, asook die slotpaar, Francois Uys en Lood de Jager, die agterspelers, en veral Willie le Roux as spelskepper, kan almal genoem word. Sarel Pretorius se manjifieke drie was ’n hoogtepunt, maar sy besering is ook oorkom deurdat Rayno Benjamin soos ’n gesoute skrumskakel Pretorius en Piet van Zyl se plek volgestaan het. Burton Francis se spel op losskakel is ’n openbaring, veral as in gedagte gehou word dat hy die Cheetahs se nommer drie-losskakel is.

Geen wonder daar word weer in die Vrystaat-stadion “Cheetahs, Cheetahs, Cheetahs” gedreunsang nie.
Punte: Toyota Vrystaat Cheetahs 26 (7). Drieë: Robert Ebersohn, Sarel Pretorius; Doel: Burton Francis (2): Straf: Francis (3); Skep: Francis. Stormers 24 (15). Drieë: Juan de Jongh (2); Doel: Joe Pietersen; Straf: Pietersen (4). Ander uitslae: Kings 28 Brumbies 28; Sharks 21 Crusaders 17; Blues 29 Highlanders 18; Rebels 30 Force 23; Hurricanes 41 Waratahs 29.