Cheetahs kontrakteer drie Griekwas uitblinkers

0
82
Gideon van der Merwe is een van die drie Griekwas spelers wat binnekort by die Toyota Cheetahs sal aansluit FOTO: GALLO

Die Toyota Cheetahs geniet tans ‘n blaaskans ná hul teleurstellende Curriebeker-veldtog waarin hulle vir ‘n tweede jaar nie daarin kon slaag om die uitkloprondes te bereik nie. Die span gaan egter binnekort weer op die oefenveld wees om te begin voorberei vir beplanne wedstryde in die Europese Uitdaagbeker.

In dié stadium is dit nog nie bevestig dat hulle wel in die toernooi sal speel nie, maar voorlopige bepalings dui daarop dat hulle in askie sal wees teen die Franse reuse, Toulon, en die Dragons in hul eerste twee kragmetings.

Toulon is die span wat onlangs die Springbok-ster, Cheslin Kolbe, van Toulouse gekontrakteer het. Ironies genoeg is die Dragons die heel laaste span teen wie die Cheetahs gespeel het in die Guinness PRO14 voordat hulle op omstede wyse uit die toernooi geboender is.

Die Cheetahs se visier is egter op die Europese Interkontinentale Skild. Goeie vertonings in dié toernooi bied die beste span in die reeks die geleentheid om in die Europese Uitdaagbeker te speel.

Die Cheetahs se planne is om in ‘n reeks wedstryde in Bloemfontein te speel ter voorbereiding vir Europa. Hulle werk daaraan om teen twee Oos-Europese spanne te speel asook ‘n paar plaaslike spanne. Hulle het ook drie versterkings gekontrakteer en die spelers sal almal vanaf die Griekwas aansluit.

Die grootste naam op die lys is die woelige en sterk flank, Gideon van der Merwe. Van der Merwe, wat in Potchefstroom studeer het, se vrou werk al vir ‘n geruime tyd in Bloemfontein en hy het die kans aangegryp om na die Rosestad te verhuis. Van der Merwe sal egter dalk eers as ‘n leenspeler uitdraf vir die Leeus in die Verenigde Rugbykampioenskap voordat hy by die Cheetahs aansluit.

Die blitsige vleuel, Daniel Kasende, is al vir ‘n geruime tyd op die Cheetahs se radar en sal span se aanval wyd versterk. Met gerugte dat die Springbok Rosko Specman op pad is na die Kaap, is hy die ideale speler om by die Cheetahs aan te sluit.

Die laaste speler van die Poublues af is die loskopstut, Mox Mxoli, wat hom gereeld in die oond bewys.

In dié stadium is dit nog onbekend vir hoe lank die trio deur die Cheetahs gekontrakteer is, maar hulle sal beslis waarde toevoeg tot die span. – MORGAN PIEK