Cheetahs kontrakteer belowende Gim-senter

0
632
CP Kleynhans (regs) vroeër vanjaar vir Paarl Gimnasium in aksie teen Wynberg Boys' High. FOTO: GALLO

Die Toyota Cheetahs het hul spelerspens versterk met die opwindende jong senter, CP Kleynhans van Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap, as aanwins.

Die belowende jong speler het ‘n junior kontrak by die Cheetahs verdien ten spyte van die feit dat skolerugby vroeg vanjaar weer eens afgelas is weens die Covid-19-pandemie. Dit gesê, jong spelers word vir ‘n geruime tyd dopgehou en agente weet presies wie die jong latte is wat tot die volgende vlak in staat is.

Met die beperkte rugby want vanjaar gespeel is, het Kleynhans wel indruk gemaak en sy stem dikgemaak tydens die wedstryd teen Grey Kollege toe hulle die rugbyskool van Bloemfontein se onoorwonne lopie van vele jare beëindig het met ‘n 18–16-sege tydens die Hoërskool Monument se eeufeesvieringe in Krugersdorp in April.

Die goeie nuus vir rugby in Bloemfontein is dat Kleynhans ook gewerf is deur die Universiteit van die Vrystaat Shimlas en die nuwe breier, André Tredoux, het aan Bloemfontein Courant bevestig dat Kleynhans op hul lys van nuwe aanwinste is.

Die afrigter van die Cheetahs, Hawies Fourie, het ook aan Bloemfontein Courant bevestig dat Kleynhans op ‘n junior kontrak gaan aansluit het. Hy het die dieselfde asem die onder-20-afrigter, Henley du Plessis, geloof vir sy goeie werwing van spelers vir aanstaande jaar.

“Ons het vir CP as ‘n junior speler gekontrakteer. Henley du Plessis, die onder-20-afrigter het hom goed van sy taak kwyt met die werwing van spelers vir volgende jaar. Ek sien uit na aanstaande jaar se span. Daar is baie talent wat hy vir ons gewerf het.

“Met André Tredoux terug by die Shimlas, werk ons baie goed met hulle saam en ek voel dat ons junior rugby in die volgende jaar of twee goed sal groei.

“Vir ons is dit goed om die kwaliteit te hê van ‘n speler soss CP, maar daar is ander spelers wat ook op pad is nadat Henley hulle gewerf het, en, soos genoem, sal ons ‘n baie sterker span hê om uit te kies van aanstaande jaar af.”

Bo en behalwe dat Kleynhans ‘n belowende rugbyspeler is, is hy ook ‘n baie goeie atleet en presteer in spiesgooi. Hy het vroeër vanjaar in dié item deelgeneem by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap en het met ‘n gooi van 68.96m op die Dal Josaphat-atletiekstadion in Paarl gespog. –  MORGAN PIEK